11 dae gelede
Antie (102) slaan Covid vir 'n 6
WEES VEILIG: Die bestuurder Leon Courie gesels oor die Covid-19-gevalle by die tehuis.  ~ Melinda Stuurman

’N BEJAARDE vrou van Kensington het Covid-19 ’n uitklophou gegee.

Dinah Fourie (102) van die Kensington Home for the Aged­ is een van vele bejaardes by dié ouetehuis wat die corona-virus oorkom het.

Fourie, wat al die afgelope 28 jaar ’n inwoner by die tehuis is, is op 6 Julie positief vir Covid-19 getoets.

Sy het gelukkig net ligte simptome gehad en het op 18 Julie uit isolasie gekom.

Fourie het laat hoor: “Ek is oud, maar nog nie koud nie.

“Elke dag is ’n lekker dag.

“Dis net my voete wat baie seer is en gereeld uitgesmeer moet word. Verder is ek oukei.”

Volgens die tehuis se bestuurder, Leon Courie, was ’n 84-jarige vrou die eerste van die inwoners wat met ligte simptome in die hospitaal opgeneem is.

Sy is twee dae later ontslaan en het verder by die ouetehuis aangesterk.

Courie verduidelik: “Ál die gevalle wat erge simptome gehad het, is in die hospitaal opgeneem.

“Ons het vyf inwoners van die ouetehuis verloor en hulle het almal in die hospitaal afgesterf.

“Die laaste geval was Mogamat Jeffries, wat op 22 Julie afgesterf het.

“Drie van ons personeel was met die virus besmet, waarvan nóg een personeellid by die huis onder isolasie is.

“Dit is ’n groot uitdaging vir ons. Ons het alle voorsorgmaatreëls in plek en alles is onder beheer.

“Die eerste geval by die ouetehuis is aan die begin van Julie aangemeld en daarna het die gevalle drasties toegeneem.”

Volgens Courie het hulle binne drie weke 38 gevalle van Covid-19 gehad en tans is daar sewe aktiewe gevalle.

  • Katherine Dorothy Newman (93) van Huis Nuwe­land het ook onlangs van die corona-virus herstel.

Newman het by die ouetehuis geïsoleer nadat sy met die virus besmet geraak het.

Sy het egter later asem­halingsprobleme ondervind en is toe in die Groote Schuur-hospitaal opgeneem.

Tog het sy gou herstel en is oorgeplaas na die Hospital of Hope by die CTICC, waar sy volkome herstel het.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters