2 maande gelede
AllPay toe nie so ’n gesukkel
Robertson se poskantoor het gister 120% verdien vir sy puik diens aan Sassa-begunstigdes.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Mammies wat hulle kinders se AllPay gaan claim het, was gister behoorlik vol lof vir die plaaslike poskantoor se flinke diens.

Vroeg gisteroggend het die meeste begunstigdes hulle geld by die poskantoor gaan onttrek.

Die tou het so vinnig beweeg dat mense wat in die ry gestaan het, verbaas was. Teen 10:00 was feitlik almal geholpe.

Toe is ’n instruksie gegee dat mense wat by ander betaalpunte is, na die poskantoor kan kom.

By Shoprite, ongeveer 500 m van die poskantoor af, was daar ’n lang ry.

Talle begunstigdes het behoorlik na die poskantoor gehol toe hulle dié uitnodiging ontvang.

Haakplekke

Een mammie het glad haar hakskoene uitgetrek om vinniger by die poskantoor uit te kom.

Ook hierdie mense is flink gehelp sonder enige haakplekke.

Sybil Arendse sê met ’n smile dat dit nou rêrig puik diens was.

“Ons het al vanaf vroegoggend by Shoprite in ’n ry gestaan en daai ry het baie stadig beweeg,” vertel sy.

Daniel Malies sê toe hy hoor die poskantoor se lyn is nie te lank nie, het hy ook gespring vir sy pennies.

“Ag, dit was nie nodig dat ek my asem moes mors nie want toe ek daar kom, was daar net drie mense voor my, so vinnig het die personeel ons gehelp,” jubel Malies.

Een van die werkers by die poskantoor, John Davids, bevestig spoggerig al die mense is baie vinnig gehelp.

Davids sê hulle was trots om ander betaalpunte se mense ook te kon bystaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters