5 dae gelede
Ál hoër syfers ’n kommer
STOP SAMEKOMSTE: Alan Winde sê hulle rig gereeld versoeke aan die nasionale regering om die getalle te verminder van mense wat byeenkomste mag bywoon.  ~ Netwerk24

DIS die heel laaste ding waarvoor ons ’n wel­coming party wil gooi, maar Covid-19 se derde vlaag infeksies is hier.

Hy’s op ons drumpel, amper aan die klop aan die Wes-Kaap se voordeur.

Dít is gister deur die Wes-Kaapse gesondheidshoof, dr. Keith Cloete, en die premier, Alan Winde, bevestig.

Dié twee het bekend­gemaak die syfers vir infeksies, hospitalisasie en sterfgevalle het die afgelope week ’n kommerwekkende toe­name getoon.

Cloete verduidelik: “Daar is tans 5 802 aktiewe gevalle – 34% meer as verlede week se 1 400.

“Ons sterftesyfer is tans vyf tot ses ’n dag, terwyl hospitaalopnames tot 52 per dag gestyg het.”

Vermy

Cloete voeg by baie van dié infeksies word deur byeenkomste in gemeenskappe veroorsaak.

“As ons die kurwe wil plat maak, sal ons byeenkomste moet vermy en die protokolle strenger nakom.”

Die dokter gee egter die versekering dat die voorbereiding vir die derde golf volstoom aan die gang is.

Cloete het die departement se strategie vir die derde golf gedeel. Dit sluit die volgende in:

  • Om die gemeenskap se gedrag te verander om infeksies te voorkom. Beperkings op byeenkomste, reise en alkoholverkope, die toepassing van aandklokreëls en die na­koming van protokolle;
  • Verbeterde reaksie op uitbrekings;
  • Die uitbreiding van die kapasiteit van die gesondheidsdepartement se Covid-platform;
  • Die handhawing van omvattende gesondheidsdienste;
  • Die beskerming van die welstand van alle gesondheidswerkers.

Cloete wys uit oorvol hospitale hou verband met traumagevalle wat oor naweke plaasvind.

Hy voeg by die aantal infeksies in skole styg, al gebeur die oordrag nie hoofsaaklik in die skole nie.

Winde sê dis hoekom hulle voortdurend die nasionale regering versoek om die beperkings op byeenkomste te verskerp.

Studente

Tussendeur ál die inligting oor die derde golf het die dok ook sy tevredenheid oor die entstof gedeel.

Volgens Cloete is die provinsie tans in ’n positiewe plek wat die entstof betref.

Hy verduidelik hulle is goed op dreef met die inentingsveldtog. “Van 17 Mei tot 9 Junie is 249 009 inentings toegedien, so dit beteken ons is goed op dreef. Ons kry ook net goeie terugvoer van mense wat ingeënt is.”

Hy sê om seker te maak alles verloop volgens plan, sal 267 studente van UCT se mediese fakulteit as inenters opgelei word.

Cloete en Winde het ook aangekondig die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gaan in ’n massa-inentingslokaal – een van die eerste “inentingsentrums van hoop” – omskep word.

Beskikbaar

Die inwerkingstelling van hierdie sentrum sal binne die volgende drie tot vier weke plaasvind.

Dit hang af of die Johnson & Johnson-entstof beskikbaar sal word en die koms van verdere dosisse van die Pfizer-entstof. Winde sê die J&J-entstof het nog nie die groen lig van die FDA in Amerika gekry nie.

Intussen het die Wes-Kaapse minister van gesondheid, Nomafrench Mbombo, haar tevredenheid met die inentingsveldtog te kenne gegee. Mbombo het alle gesondheidswerkers vir hul harde werk bedank.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters