6 dae gelede
Aantal klagte tydens lockdown styg skerp
JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA â?? FEBRUARY 25: A gene
Bheki Cele sê kriminele het die lockdown uitgebuit om onwettige handel uit te brei.  ~ Foto ter illustrasie

DIE aantal mense wat aangekla is vir oortreding van lockdown-regulasies het binne 'n maand meer as verdubbel.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag aan die media gesê teen die einde van April, toe die land nog op vlak-5 was, is 107 000 sake aangemeld met 118 000 mense wat aangekla is.

Die getal staan nou amper op 230 000.

Cele sê die hoogste aantal arrestasies weerspieël die provinsiale infeksiesyfer. Die meeste mense is in die Wes-Kaap aangekla gevolg deur die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng.

"Ons weet dat kriminele opportunisties is. So georganiseerde misdaadsindikate het die lockdown en veral die verbod op alkohol en sigarette uitgebuit en hul onwettige handel uitgebrei.

"Ons het ook 'n styging in die smokkel van drank en tabak tussen Suid-Afrika se landsgrense met Botswana, eSwatini, Lesotho, Mosambiek en Zimbabwe opgemerk sowel as die verkope van die produkte op die swart mark."

Cele sê die weermag het van dié onwettige operasies, wat meestal langs die grense met Mosambiek en Zimbabwe voorkom, ontwrig en het beslag gelê op smokkelware ter waarde van R1,7 miljoen in Maart en R1,6 miljoen in April.

April het ook 'n dramatiese afname in kontakmisdade gesien wat huishoudelike geweld, huis- en sakerowe sowel as hijackings insluit.

"Ons het misdade sedert die lockdown vergelyk met misdaad oor dieselfde tydperk verlede jaar. Hoewel die syfers laag bly, het ons klein stygings in sommige kategorieë opgemerk.

"Die redes agter die stygings of afname in misdaad moet nog vasgetel en bevestig word deur ons misdaadontleders. Ons glo wel dat die klein styging weens die verslapping van die lockdown-beperkings is, wat 'n toename in die beweging van mense en verkeer op ons paaie teweeg gebring het soos meer maatskappy weer begin besigheid doen het."

Cele sê die land beleef moeilike tye, maar dat onthou moet word dat die lockdown die regering se poging is om mense teen die corona-virus te beskerm.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters