21 dae gelede
Wetgewer op hol oor virus-vrese
solidariteit: Provinsiale leiers – Brett Herron van die Good-party (heel links), Melikhaya Xego van die EFF, Lorraine Botha, DA-LPP, Cameron Dugmore, die ANC-leier in die provinsiale wetgewer, en Daylin Mitchell van die DA – neem gisteroggend aan die nuuskonferensie deel.Foto: ANELE MFAZWE  ~ 

DIKDINGE in die Wes-Kaapse provinsiale parlement is hard deur die corona-virus getref.

Die provinsiale minister van gesondheid, dr. Noma­french Mbombo, en die minister van maatskaplike ontwikkeling, Sharna Fernandez, is in self-kwarantyn nadat hulle in kontak was met iemand wat positief vir die virus getoets is.

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het besluit om van die huis af te werk as ’n precaution nadat hy met Mbombo kontak gehad het.

Al drie senior LPP’s het nog geen simptome van die virus getoon nie.

Die speaker, Masizole Mnqasela, en byna ál die provinsiale leiers van die opposisiepartye het gister ’n mediakonferensie oor die pandemie gehou. Net die party Al Jama-ah was afwesig.

Volgens Mnqasela het die partye saamgestem die provinsiale parlement moet gister sluit ingevolge pres. Cyril Rama­phosa se verklaring van ’n ramptoestand.

Maatreëls sal by die wetgewer toegepas word om die verspreiding van die virus te verhinder.

By Son se aankoms gister het ál die personeellede by die ingang handskoene aangehad en die hande van alle joernaliste wat die mediakonferensie bygewoon het, is met hand sanitiser gespuit.

Mnqasela sê: “Ons bevind ons op onbekende terrein. Ons kan nie voortgaan asof alles normaal is nie.

“Ons het egter nog nie ’n totale shutdown bereik nie. Ons kan nie heeltemal alles toemaak nie.

“Die ekonomie is tans in ’n kwesbare stadium.

“Ons kan dit nie verder onder druk plaas nie, maar ons en ons personeellede se gesondheid en veiligheid kom eerste.

Aktiwiteite

“Alle LPP’s wat in aanraking was met iemand wat positief getoets is vir die corona-virus, moet vir ’n minimum van 14 dae self-kwarantyn toepas.”

Hy voeg by alle vergaderings, besoeke, reise en aktiwiteite word vir eers op ys gesit.

“Ons sal met uitgedunde personeel werk,” sê hy.

Peter Marais, die Wes-Kaapse leier van die Vryheidsfront Plus, wil egter weet waar die geld vandaan gaan kom om die virus te bekamp.

Hy sê: “Al wat ek hoor, is funksies en geen fondse nie. Ons is reeds in ’n resessie te midde van ’n pandemie. Die rand is swak.”

Marais stem saam met die besluit dat kerke moet voortgaan op die voorwaardes soos uiteengesit deur pres. Ramaphosa.

Cameron Dugmore, ANC-leier in die provinsiale parlement, sê hy verwelkom Mnqasela se leierskap en toenadering om met die opposisiepartye te konsulteer oor besluite in die huidige krisis.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters