Verlede maand
Werkers worry
Wagtend: Talle werkers van CFG wag om vir Covid-19 getoets te word. FOTO’S Verskaf  ~ 

WERKERS van Ceres Fruit Growers (CFG) moes self masjiene en vloere van die pakstoor en die sapfabriek afwas toe drie van hul medewerkers positief getoets is vir Covid-19.

“Net die afdelings waar die siek mense gewerk het, is toegemaak.”

Só vertel ’n werker van die fabriek waar die famous Ceres-sap gemaak word.

CFG verpak en versprei ook ’n verskeidenheid appels en pere. Luidens sy webtuiste is CFG verantwoordelik vir uitvoer en verskaffing van die kultivars Forelle, Rosy Glow, Pink Lady, Golden Delicious, Royal Beaut en Cheeky.

Die werker wil anoniem bly uit vrees vir viktimisasie deur die werkgewers.

Hy sê die bom het verlede week gebars toe een persoon positief getoets is. Omdat die werker ’n African van Nduli was, is al die swart werkers na die saal geneem.

“Die mense moes toe almal wag om getoets te word.

Nog twee mense is later positief getoets.

“Die unie se mense was Maandag hier nadat verskeie werkers by hulle gekla het. Dis ook eers nadat van die mense weggejaag is omdat hulle hul vrese oor hulle gesondheid aan die werkgewers bekend gemaak het.”

Die unie sê daar is nie rede tot kommer nie.

Slim

Die werkers sê afgevaardigdes van die gesondheidsdepartement was ook daar, “maar die bestuur is slim. Hulle neem hulle nie na die afdelings waar ons so opmekaar werk nie.”

Die werkers sê die bestuur wil die meeste appels van die bome af hê voordat die fabriek sluit.

“As hulle nóú toemaak, gaan hulle te veel produksie verloor. Ons het ook gerugte gehoor dat afleggings op pad is. Ons kan niks vir bestuur vra nie, want dan word ons in die pad gesteek.”

Die dorpie het al 24 bevestigde Covid-19-gevalle.

Sandra Maritz, ’n woordvoerder van die gesondheidsdepartement in die Kaapse Wynland-distrik, bevestig een pasiënt in Ceres is dood aan die corona-virus.

“Covid-19 is meer aansteeklik as griep. Daarom is dit belangrik dat almal gehoor gee aan die nasionale inperkingsregulasies.”

Sy sê daar word gereeld bewusmaking oor Covid-19 en voorkoming deur alle staatsdepartemente en die Witzenberg-munisipaliteit se vennote gedoen.

“Om Covid-19 te stuit verg almal se samewerking. Ons vra dat Witzenbergers aanhou om proaktief te wees om Covid-19 te voorkom en verspreiding te stop.”

Sy sê selfs al is mense tuis, moet hulle gereeld hande was.

“As jy hoes of nies, moet jy dit in ’n sneesdoekie doen en die sneesdoekie weggooi.

“Oppervlakke soos tafels of toonbanke moet gereeld met ’n mengsel van water en bleikmiddel ontsmet word.

“Probeer om kontak met siek mense te vermy.

Lapmasker

“As jy moet uitgaan om kos te koop, hou ’n afstand van minstens 1,5 m van ander mense, insluitend personeel. En dra ’n lapmasker om te keer dat druppels versprei.”

CFG het nie op Son se navrae gereageer nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters