Verlede maand
Weg met stigma!
STAAN SAAM: Eva Kramer, Mariah Muller, Natalie Lottering, Wilhelmina Lottering, Anoeska Gilbert, Adelle Davids, Harriet Witbooi en reg voor in die middel is Barbara Rass.  ~ Jonathan Lestrade

ENKELMA’S rock!

Dít is die sentiment wat ’n groep enkelma’s en vroue van Atlantis deel.

Hul mission is om te verander hoe enkelma’s en vroue in die algemeen gesien en behandel word.

Deur die Atlantis Women’s Network, wat gelei word deur die alombekende en geliefde Barbara Rass, beoog hulle om gehoor te word en nie net gesien te word nie.

Rass sê nes die 20 000 vroue in 1956 vir hul regte opgestaan het, wil hulle opstaan en ’n verandering maak.

“Daar word gesê vrouwees moet in Vrouemaand in sy geheel gevier word, maar ons praat nie oor die stigma wat rondom enkelma’s bestaan nie,” meen Rass.

Die gesprek hieroor het begin in ’n haarsalon in Atlantis waar Nazlay Calvert werk.

Sy het Rass eendag gevra wat gedoen kan word om enkelmammies te help.

“Ek probeer my bes om die beste vir my kinders te gee. Ek vra nie ’n handout nie; ek vra leiding en ondersteuning en geleenthede,” sê Calvert.

Rass sê dis nie vir ’n enkelma maklik om haar kinders alleen groot te maak, haar eie huis te kry of bystand te kry as dit by maatskaplike sekerheid kom nie.

“Hulle voel uitgelaat deur die breër samelewing.

“Ons wil dit verander. Ons wil hê die regering moet standpunt inneem en ons wys hoe hulle enkelma’s en enkelvroue ondersteun deur vir hulle gelyke geleenthede skep,” sê sy.

WAT VAN ONS? Eva Kramer, ’n enkelma, doen ’n beroep op die regering om enkelma’s en vroue raak te sien. Foto: Jonathan Lestrade

Rass glo as daar gelyke geleenthede vir vroue geskep word, sal daar minder geweld teen vroue en kinders wees.

Besluit

“Deur die gap te vul en hulle te bemagtig, sal baie vroue wat tans in afbrekende verhoudings is – omdat hulle dalk voel dat hulle só meer geleenthede kan kry – daardie verhouding verlaat om na hulself te kyk,” verduidelik sy.

Eva Kramer, een van die vroue wat lid is van die netwerk, sê sy het jare gelede besluit om as ’n enkelma self vir haar geleenthede te skep.

“Ek is nou in staat om ander vroue en enkelma’s te ondersteun.

“Ons het in ons gemeenskap ons eie netwerk geskep en in elke straat waar ons woon, is ’n vrou wat ’n leier is.

“Ons kan nie vir die regering wag nie, maar ons kan hulle ons stemme laat hoor.

“Ons wil op die regering se agenda geplaas word. Nes vroue wat in gesonde verhoudings is, wil ons die beste hê vir ons kinders en familie,” sê sy.

VERANDERING: Barbara Rass sê alle vroue verdien om gelyke geleenthede te kry. Foto: Jonathan Lestrade

Kramer sê ook hulle daag die staat uit om in te gryp.

Behuising

“Terwyl ons die regering uitdaag, sal ons aanhou om ons stemme dik te maak en mekaar te ondersteun en sodoende die toekoms vir ons kinders herskryf sodat alle vroue ingesluit word.”

Rass sê sy help op die oomblik 360 enkelma’s om behuising te bekom.

“Ons sal saam deur die proses gaan en dit tot die einde volg sodat hulle die geleentheid het om bemagtig te voel,” verduidelik Rass.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters