14 dae gelede
Week se nuus gryp lesers aan die hart
son poster
Son poster met Pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging  ~ 

DIT was weereens ’n week propvol lekker leesgenot vir ons lesers, maar ook een gevul met hartseer en pyn.

  • Maandag het ons berig oor Henry Jansen, burgemeester van die Langeberg-munisipaliteit, wat weens Covid-19 afgesterf het.

Dit het net weer gewys dat die gevaarlike virus waarmee ons tans worstel, nie worry oor watter amp jy in die samelewing beklee nie.

Versprei

  • Dinsdag het ons berig oor die skok-vonds van kinders in Tafelsig, Mitchells Plain, wat afgekom het op tronk-oorpakke wat gedump is.

Die gemeenskap was in rep en roer hieroor en het gewonder of ontsnapte tronkvoëls dalk in hul midde is.

Mosele Sehloho, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, het egter laat weet dis nie van hul tronk-uniforms nie.

  • Woensdag het ons berig oor grondbesettings wat nou nes Covid-19 regoor die Kaapse Vlakte versprei. Van Khayelitsha tot in Delft is sinkhokkies besig om soos paddastoele te verrys.

Wetstoepassingsowerhede het behoorlik hul hande vol hiermee, sowel as met die gewelddadige protes­aksies wat hiermee gepaard gaan.

Gesluit

  • Donderdag was dit die hartseer-storie van die vermoorde Tazne van Wyk se mammie wat op haar dogter se birthday steeds sukkel om die pyn en groot verlies te verwerk.

’n Halwe jaar is verby sedert Tazne se lykie in ’n stormwaterpyp langs die N1-snelweg naby Worcester gevind is.

Carmen van Wyk sê dit voel asof almal van haar dogter vergeet het.

Moyhdian Pangarker, Tazne se vermeende killer, loop tans hof vir die grumoord. Blykbaar gee die ander inmates hom hel vir sy siek daad.

  • Vrydag het ons berig oor die skole wat nou weer vir ’n maand gesluit gaan wees nadat onderwysvakbonde druk op Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, uitgeoefen het. Pres. Cyril Ramaphosa het egter Donderdagaand aangekondig dat matrieks vir net ’n week by die huis sal wees.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters