15 dae gelede
Vir seker: Skole gaan oopmaak

OUERS kan maar voortgaan om daai skooluniforms te stryk.

Die minister van basiese onderwys, Angie “Mama Codiv-19” Motshekga, het Dinsdagaand op ’n mediakonferensie gesê die plan om skole op 1 Junie te open sal voortgaan.

Volgens Motshekga het haar departement toestemming van die National Command Centre (NCC) gekry om met die infasering van leerders te begin.

Planne om leerders in gr. 12 en gr. 7 eerste terug te faseer in skole, gaan voort, het sy gesê.

“Daar was altyd die certainty dat skole sou oopmaak, maar die veiligheid van leerders en onderwysers moes in ag geneem word,” het Motshekga gesê.

Dit was in ’n bitter kort speech wat skaars 20 minute geduur het.

Volgens haar was dit belangrik om eerstens skole Covid-19-gereed te kry, asook om eers vas te stel of daar enige ander siektes onder onnies en leerders is.

“Dit is waarom dit baie belangrik is dat ouers skole moet inlig as hulle kinders enige onderliggende mediese probleme het,” het sy verduidelik.

Volgens Motshekga gaan onnies van Maandag af terug by skole wees – ’n week later as wat aanvanklik beplan is.

Daar word tans ook met die departement van vervoer beraadslaag oor hoe die veiligheid van leerders verseker sal word as hulle van vervoerdienste gebruik maak.

Training

“Daar moet gekyk word na social distancing, maskers en hand sanitising,” sê Motshekga.

“Die personeel wat by die skoolvoedingskemas betrokke is, sal ook nou training moet ondergaan om op ’n nuwe manier kos vir leerders te berei.”

Motshekga het ook teruggekap en gesê die bietjie hand sanitisers wat tot dusver by skole afgelewer is, is beslis nie vir gebruik deur leerders nie.

“Dit was vir die gebruik van die skoolbestuurspan (SMT) wat by die skole was om die heropening van skole­ te beplan,” het sy gesê.

“Ons kan mos nie nou al hierdie veiligheidsprodukte gaan aflewer terwyl daar in hierdie tyd by meer as 1 500 skole in die land ingebreek is nie.”

Sy het beloof dat die departement van water en sanitasie sal verseker dat daar water by alle skole sal wees, voordat hulle heropen.

Maar die voorsitter van die Educators Union of South Africa (EUSA) in die Wes-Kaap, André de Bruyn, was glad nie impressed met Mot­shekga se speech nie.

Volgens De Bruyn, het die minister niks nuuts kwytgeraak wat die onderwysvakbond gerusstel dat daar na die veiligheid van onnies en leerders omgesien gaan word nie.

Bestudering

Hy sê: “Die departement van basiese onderwys sê daar is verslae bestudeer, plaaslik en internasionaal, wat hulle besluit regverdig om skole te open.

“Daardie verslae moet aan alle unions beskikbaar gestel word vir bestudering en nie net aan sommiges, soos wat tans die geval is nie.

“Die bietjie voorsiening van PPE aan skole is onvolledig en bied nie eens beskerming aan die werkers wat daar moet skoonmaak nie.

“EUSA kan met sekerheid sê en skole noem waar géén opleiding ontvang is, soos gemeld deur die minister nie.”

Op die stelling van Mot­shekga dat ondersteuning vir geestesgesondheid aan onnies en leerders beskikbaar gestel gaan word, meen De Bruyn dat dit ook nie haalbaar gaan wees nie.

De Bruyn sê: “Die meeste distrikte het net een of twee sielkundiges wat al klaar nie by alle skole kan uitkom nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters