21 dae gelede
Verpleegsters nou ‘soldate’
MOEILIK: Eleanor Roberts sit tussen die foto’s van die twee oorlede nurses wat alles opgeoffer het.  ~ Melinda Stuurman

VERPLEEGSTERS wat onlangs weens die corona-virus gesterf het, is Dinsdag op Internasionale Verpleegsterdag vereer.

Die Demokratiese Verpleegorganisasie van Suid-Afrika (Denosa) het in Bellville kerse gebrand vir die oorlede verpleegsters Petronella Benjamin en Ntombizakithi Ngidi.

Die Wes-Kaapse Denosa-voorsitter, Eleanor Roberts, beskryf hulle as soldate.

Volgens haar is daar baie nurses wat te midde van die Covid-19-pandemie hul lewe in gevaar stel.

Sy dink hierdie verpleegsters is helde.

Roberts sê verder: “Die Wes-Kaap is die episentrum van die pandemie in die land.

“Ons het uitdagings wat ons as verpleegsters in die gesig staar. Daar is ’n tekort aan PPE (personal protective equipment) en dan is daar ook die bestuur wat nie weet wat aangaan nie.

“Ons weet die angstigheid is hoog, maar ons is veronderstel om die geveg teen die virus te lei. Ons voel daar word nie na ons geluister nie.

“Dit gaan nie oor geld nie. Ons stel ons lewe in gevaar, maar ons voel nie die nasionale regering neem ons ernstig op nie, veral op die platteland. Ons is baie bekommerd.”

Die Wes-Kaapse Denosa-sekretaris, Danver Roman, sê daar is steeds gevalle waar verpleegsters wat positief toets vir die corona-virus deur hul bestuurders aangesê word om nie hul status met hul kollegas te deel nie.

Volgens hom is dit ’n onverantwoordelike opdrag.

Hy sê: “Dis mos moord. As ek weet ek het die virus en ek gaan voort asof dit niks is nie, is my intensies mos om iemand dood te maak.”

’n Verpleër wat anoniem wil bly, vertel hy voel nie meer veilig by die werk nie.

“As iemand positief toets vir die virus, word hy of sy gevra om by die huis te self-isoleer.

“Dan word die kliniek ontsmet en ’n paar dae daarna moet almal wat nog nie positief getoets is nie terugkeer werk toe.

Bedank

“Dis egter nie wat die regulasies sê nie.

Kragtens die regulasies moet al die personeellede vervang word en almal moet onder kwarantyn gaan.”

Intussen het die Stad Kaapstad se mayco-lid belas met gesondheid, Zahid Bad­roodien, gister ’n paar klinieke in die Kaap besoek. Hy het die verpleegsters bedank vir hul toewyding aan die geveg teen die corona-virus.

Hy het gesê: “Ons nurses is superheroes. Daagliks verlaat hulle hul familie om te gaan sorg vir verskeie gemeenskappe waar hul dienste benodig word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters