2 maande gelede
Vakbond vurig; departement sê baie skole is OK
André de Bruyn  ~ Netwerk24

OOR die land heen het daar gister onnies en leerders aan optogte deelgeneem oor die skole wat oop is.

Dié optogte is gehou sodat gehoor gegee kan word aan onnies, leerders en ouers­ se pleidooi dat skole vir die res van die jaar gesluit moet bly.

Die laaste tyd is gesien hoe onnies as gevolg van die gevreesde corona-virus sterf. Leerders word ook met die virus besmet.

Vakbonde en burgerlike organisasies is erg bekommerd hieroor; daarom ondersteun hulle die landwye optog.

André de Bruyn, provinsiale voorsitter van Educators Union of South Africa (Eusa), sê hulle beplan ’n stay-away vir môre en Donderdag.

Onverskillige

Eusa vra die ondersteuning van alle onderwysers in die Wes-Kaap en dat alle ouers hul kinders veilig by die huis moet hou.

De Bruyn vra leerders moet in solidariteit nie skool toe gaan nie.

Hy vaar uit: “Eusa kan nie meer toelaat dat onderwysers en leerders op hierdie onverskillige manier aan Covid-19 blootgestel word nie. In die drie weke nadat die skole oopgemaak het, het 523 leerders en 1 169 personeellede Covid-19 opgedoen. Sowat 775 skole het ook al gesluit.

“Hoe kan die departement van basiese onderwys (DBO) aanhou om onderwysers en leerders só aan ’n onsigbare vyand bloot te stel?

“Hierdie aksies en die arrogansie van die DBO grens aan niks minder as massamoord nie. Geen ander land het hul skole oopgemaak terwyl die pandemie na sy kruin beweeg het nie.

“Sommige lande maak weer skole toe omdat daar ’n tweede vlaag van besmettings was.”

Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê hierdie optogte is nie goeie idee nie omdat dít onderwysers en leerders se lewe in gevaar stel.

Sy sê dit onderbreek ook skoolaktiwiteite.

Volgens Hammond voer sowat 1 500 skole hul daaglikse take uit en onderrig leerders sonder enige onderbrekings en die meerderheid het geen Covid-19-gevalle aangemeld nie.

Hersiene

Sy verduidelik: “Ons moet die positiewe gevalle by skole in hierdie groter konteks raaksien.

“Dit is belangrik om daaraan aandag te gee dat al die leerders nie terselfdertyd by die skool sal wees wanneer die ekstra grade terugkeer nie.

“Om ’n afstand van 1,5 m tussen leerders te handhaaf, is skole gevra om ’n tydelike, hersiene opvoedingsplan in te dien oor hoe dit bestuur kan word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters