6 maande gelede
Tyd om te besluit
GEEN SKOOL: Liam Steenkamp gaan nie terugkeer skool toe nie.  ~ Jonathan Lestrade

“MY LEWE, my keuse...”

Só sê Liam Steenkamp (17), hoofseun van die Hoërskool Bishop Lavis, oor terug skoolbanke toe gaan.

Vir hom was dit ’n lang en harde besluit om te maak om nie vanjaar terug te keer skool toe nie.

“Ek moet myself protect en my familie. Ek kan volgende jaar teruggaan,” sê hy.

Steenkamp sê dis nie asof hy die jaar net weggooi nie. Maar hy voel net dat die tyd nou te min is om ál die skoolwerk wat hy gemis het in te haal en steeds te presteer.

“Ja, ek het ’n plan gehad om volgende jaar verder te studeer, maar daardie droom moet nou bietjie wag,” sê hy.

Die doelgerigte jong man sê hy glo ook nie leerders wat rook, gaan by die social distancing-regulasies hou nie.

“Daar is leerders wat rook en ek voel net dat as hulle terug op die skoolbanke is, gaan die rokery net aangaan en dit gaan maak dat hulle bymekaarkom en geen social dis­tancing toepas nie,” reken hy.

Steenkamp sê hy wil nie die risiko loop om in ’n situasie te beland waar hy homself aan die virus blootstel nie.

“Ek wil niemand met my eie besluit beïnvloed nie. Elkeen moet sy eie opsies oorweeg en sy eie keuses maak. Almal weet mos wat die beste vir homself is.”

Bang

Intussen gaan Liam tuis met sy skoolwerk aan totdat hy volgende jaar terugkeer.

Sy guardian, Cuan Davids, sê hy en sy vrou, Mila, wat Steenkamp se suster is, ondersteun dié besluit.

“Ek voel bang vir hom en vir ons familie. Ons is ’n groot gesin. Ons weet nie wie die virus het nie en dit maak ons senuagtig.

“Vir ons is dit belangrik dat hy gemaklik voel met sy besluit en ons staan hom by,” sê Davids.

TOEKOMS: Saadiqah Hendricks se die besluite wat sy nou neem sal haar toekoms beïnvloed. Foto: Jonathan Lestrade

Saadiqah Hendricks (18), die hoofmeisie van die Hoërskool Bishop Lavis, wil egter terugkeer skool toe.

“My education is baie belangrik vir my. Ek het planne in plek wat ek graag wil volg vir my toekoms,” vertel sy.

Hendricks sê sy verlang na die interaksie met opvoeders.

“Ek kan op my eie werk en maak tans so, maar daar is dae dat ek die ondersteuning van my onderwysers benodig en net in my klas wil sit,” sê sy.

Sy sê sy vrees vir haar lewe en weet dis ’n risiko wat sy neem, maar sy glo die regering het die regte keuse gemaak.

“Ek glo daar sal na ons gekyk word en dat alle stappe gedoen sal word om ons almal te beskerm,” sê Hendricks.

Selfstandig

Sy sê sy weet nie wat volgende jaar gaan gebeur nie, maar sy wil graag haar doelwit bereik en rekeningkunde gaan studeer.

Rachmat Hendricks, haar mammie, sê haar dogter is selfstandig en maak haar eie keuses.

“Ek ondersteun haar en as sy gemaklik voel, dan voel ek gemaklik,” laat hoor sy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters