Verlede maand
Twee dood in Covid-kamp, maar nie aan Covid
BEKOMMERD: Mbulelo Tiko sê hulle try dinge in die Covid-kamp volgens die boek doen.  ~ Melinda Stuurman

DIS nie Covid-19 wat die grondbesetters van die Covid-kamp laat vrees nie.

Twee mense het vandeesweek in dié nuwe plakkerskamp in Mfuleni gesterf.

Son het in Julie berig oor die kamp wat amper oornag opgeskiet het. Baie van die inwoners sê hul landlord het hulle uitgesit toe hulle hul werk verloor het en nie meer huur kon betaal nie.

Volgens Thabiso Ngwevu, voorsitter van die plaaslike bestuurskomitee, lewe die plakkers nou in vrees nadat ’n man (46) Maandagaand daar doodgeskiet is.

Volgens Ngwevu het die voorval omstreeks 19:00 gebeur.

Hy voeg by: “Volgens ooggetuies het die onbekende man saam met ander in­woners om ’n vuur gesit.

“Onbekende aanvallers het hom toe genader, verskeie skote op hom afgevuur en toe van die toneel gevlug.”

Kwaaddoeners

Ngwevu hou egter vol dié skietery het vanaf die nabygeleë U-section na hulle oorgespoel.

Hy verduidelik: “Hierdie is nie ’n dispuut wat hier in Covid ontstaan het nie.

“Luidens die inligting wat ons sover het, het die kwaaddoeners die slagoffer tot hier gevolg.”

ONVEILIG: Dis nie Covid-19 nie, maar geweld wat mense van die Covid-plakkerskamp bang maak. Foto: Melinda Stuurman

Die sekretaris-generaal van die bestuurkomitee, Mbulelo Tiko, vertel verder dat ’n meisie (11) Dinsdag doodgeskok is toe sy op ’n onwettige kragaansluiting getrap het.

“Ons het mense hier al herhaaldelik gevra om nie onwettig elektrisiteit aan te lê nie, want dit vertraag ons pogings om dienste soos water­ en elektrisiteit by die Stad Kaapstad te kry.

“Ons het ook geen probleem as wetstoepassers leë struk­ture afbreek nie, want gangsters kan dit vir hul dade gebruik,” het Tiko gesê.

Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, bevestig die twee voorvalle en sê albei word ondersoek.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters