2 maande gelede
Tuis bly nie moontlik
Kilometers: Inwoners moet ver loop om water in die hande te kry.  ~ Mkhuseli Sizani

JY KAN nie jou samewerking tydens lockdown gee as jy nie water het om te drink nie.

Honderde huishoudings in Uitbreiding 34 en 35 in Bethelsdorp moes die instelling van ’n nasionale lockdown verontagsaam nadat hulle krane drooggeloop het.

Die 21 dae van lockdown is daarop gemik om die gevreesde corona-virus in die kiem te smoor, maar inwoners van hierdie gebiede sê hulle kan nie by die huis bly as hulle nie water het nie.

Inwoners het Vrydag die strate ingevaar om emmers vol water na hulle huise te dra.

Woedende inwoners wou ook by hulle raadslid, Geor­gina Faldtman, weet hoe hulle aan die lockdown gehoor kan gee as daar nêrens water te drinke vir hulle is nie.

Dié gebiede in die Northerns ervaar al sedert 2017 waterprobleme.

Om die kopseer nog erger te maak, het ’n waterpyp laas Maandag gebars, wat duisende huishoudings sonder water gelaat het.

Aanvanklik was daar darem saans water in Uitbreiding 35 en 36. Krane hier het egter ook aan die begin van die jaar leeggeloop.

Leon Stefaans, voorsitter van Uitbr. 36 se areakomitee, sê: “Mense is kwaad, want ons is 83 huishoudings wat al sedert 2017 met waterprobleme sit.

“In die verlede was ons water beskikbaar vanaf 22:00 saans tot 05:00 soggens. Maar dis nie meer so nie.

“Ons het groot families en die emmers wat ons moet volmaak, hou nie lank nie.

“Selfs die twee gemeenskaplike flushing toilette wat ons gehad het, werk nie meer nie en al hierdie dinge maak veral ons kinders vatbaar vir die corona-virus.”

Stefaans sê dit is moeilik om die inwoners se gemoedere te kalmeer.

“Ons moet ons hande gereeld was om ons teen die corona-virus te beskerm, maar mense moet op en af loop op soek na water.”

John Main, ’n gemeenskapsleier vir Uitbr. 35, sê meer as 200 huishoudings in sy area het sedert Januarie vanjaar nie water nie.

“Hoe moet ons onsself teen die corona-virus beskerm as ons nie water het nie?” wil hy weet.

Gebrek

Cheslin Carol van Uitbr. 35 sê hy moes omtrent 3 km loop om water by die Kleinskool-rugbyveld te gaan haal.

Sommige van die inwoners is Vrydag genoop om van ’n oop gat se water te drink waar diere hulle dors les.

Faldtman sê die inwoners se gebrek aan water is ’n ope uitnodiging vir die corona-virus.

“Die gebarste waterpyp het die sanitasieprobleme vererger. Meer as 4 000 huishoudings het op die oomblik nie water nie.

“Munisipale amptenare probeer tans om die pyp te herstel. Die polisie jaag die mense huis toe, maar hulle weier, want niemand wil sonder water huis toe gaan nie,” sê Faldtman.

Volgens haar het sy al verskeie beroepe op die munisipaliteit­ gedoen om die probleem aan te spreek.

Die munisipale woordvoerder Nelson Mandelabaai, Mthubanzi Mniki, het teen druktyd nog nie gereageer op die vrae wat aan hom gestuur is nie.

Mniki het ook nie Son se oproepe beantwoord nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters