2 maande gelede
Tjoekie toe oor hy brood koop
VERONTREG: Brandon van Wyk (37) is bitter omdat ’n brood hom nou ’n misdaadrekord gegee het.  ~ Peter Abrahams

HY WOU net ’n brood gaan koop het, maar toe beland hy in die tjoekie vir die hele weekend.

Brandon van Wyk (37) van Manenberg sê hy het nooit in sy lewe gedog dat hy oor brood ge­arresteer sou word nie.

Van Wyk het Saterdag oorkant sy huis in Ruimteweg gestap om brood te gaan koop, toe stop die cops hom.

Toegekap

Volgens ’n erg getraumatiseerde Van Wyk was hy onder die indruk dat brood ’n basiese voedsel is en het hy nie twee keer gedink om dit te gaan koop nie.

Hy verduidelik: “Toe ek buite kom, was daar mense by die tuck shop. Toe skreeu iemand: ‘Hier kô die boere!’

“Die bhai het onmiddellik toegekap en voordat ek by my hek kon ingaan, het die polisie my geblok.”

Van Wyk vertel hy het nie eens die kans gekry om reg te verduidelik hoekom hy buite was nie, toe begin die manne in blou hom uitskud.

“Toe sê die een law omdat ek nie na die president luister nie, gaan ek tronk toe.”

Die man se sakke is leeg gemaak en sy medikasie is glo ook weggegooi.

“Hulle het my in die vên gegooi en gesê ek oortree die regulasies.

“Ek verstaan dit nie, want ek was dan reg voor my huis toe hulle my vat.

“Ek het die hele naweek gelê en Maandag in die hof verskyn.

“Hier is ek die boete van R5 000 gegee.”

Van Wyk sê toe hy daar uitgekom het, was hy omtrént in ’n toestand, want hy weet al klaar nie hoe hy dit deur die jaar gaan maak nie.

“Ek gaan nou ’n criminal record kry vir brood.

“Ek glo as hulle net geluister het, sou hulle verstaan het. Hulle gee jou nie eens kans om te verduidelik nie.”

Belinda Petersen, ’n gemeenskapsaktivis, sê sy gaan seker maak dat sy vir haar mense gaan baklei.

Sardientjies

Sy stem glad nie saam met die polisie se gedrag in hierdie geval nie. “Hulle is aangesê om vreedsaam te werk.

“Ons is baie dankbaar vir die regulasies, maar wat van ons wat soos sardientjies op mekaar woon?

“Daar is soveel dinge wat nie regverdig teenoor ons mense is nie,” meen sy

  • Die polisie het teen druktyd gister nog nie gereageer op Son se navrae oor die broodkoper se geval nie.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters