9 dae gelede
Taxi’s laai vol
IN RYE: Pendelaars kla dat die meeste taxi-drywers lankal hul taxi tot 100%-kapasiteit laai.  ~ Melinda Stuurman

PENDELAARS se lewens is nou meer in gevaar as ooit tevore.

Dit kom nadat die grootste taxi-organisasies, die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-raad (Santaco) en die Nasionale Taxi-alliansie (NTA) gesê het hulle gaan nou tot 100%-kapasiteit laai.

Dis teenstrydig met die regulasie wat bepaal dat ’n taxi nie meer as 70% vol gelaai mag wees nie.

Passasiers by die taxi rank in die Kaapse middestad het gister aan Son gesê taxi’s laai lankal tot op kapasiteit.

’n Pendelaar van Mitchells Plain sê: “Ek voel nie veilig as ek in ’n taxi klim nie.

“Selfs die guard­jies dra nie eens maskers nie en dis altyd volgepak.”

Nog ’n passasier wat ook anoniem wil bly, sê sy het nog nooit ’n sanitiser in ’n taxi gesien sedert die lockdown begin het nie.

Arthur Williams, ’n driver van Mitchells Plain, sê: “Ek is nie mal nie. Ek sal nie daai ding doen wat die organisasies sê ons moet doen van vênne vol mense pak nie.

“Dié is my eie vên. As hulle dit impound, wat gaan my kinders eet?

“En ek sit al klaar met klomp fines.”

VERANTWOORDELIK: Arthur Williams sê hy hou by die regulasie oor hy ’n gesin het om te voed. Foto: Melinda Stuurman

Lwandile Gagela, ’n driver van Delft-Suid, sê op sy beurt hy laai ook steeds 70%.

Wins

“Ek het baie verloor met die lockdown, maar ek moet nog luister na wat die regering sê.”

Maar ’n ander driver wat sy eie taxi ry, sê hy laai lankal 100% passasiers, want dis al manier hoe hy ’n wins kan maak.

Die nasionale minister van vervoer, Fikile Mbalula, veroordeel ten sterkste enige oproepe om wanorde in die land te saai en meer mense op dié manier bloot te stel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters