14 dae gelede
Taverners gaan nou nuwe jaar platsak in
verkeerde tyd: Ntsokolo Pote sê hy kan nie nou sy stock verkoop nie.Foto: Mpumi Kiva  ~ 

TAVERN-EIENAARS in die Suid-Kaap sê hulle gaan die nuwe jaar platsak in as gevolg van die nuwe lockdown-regulasies op level 3.

Die eienaars sê die verbod op alkoholverkope gaan definitief ’n negatiewe uitwerking op hul besigheid en die welvaart van hul families hê.

Benson Flicks (56) sê hulle respekteer die regering se besluit, maar voel hulle kon meer tyd gekry het om hul bestaande voorraad te verkoop.

Flicks bedryf al die afgelope 15 jaar ’n wettige tavern in die township Kwa­Nonqaba naby Mosselbaai.

Hy sê die verbod op verkope gedurende die eerste golf van die pandemie het hulle ’n groot knou toegedien.

Leeftyd

Dié pa van drie het nou min hoop dat sy besigheid die jongste verbod gaan oorleef.

“In besigheid kan twee weke soos ’n leeftyd voel as jy nie geld maak nie.

“Ek sit met baie voorraad, maar hoe gaan ek dit verkoop?

“Ek het planne gehad om my besigheid uit te brei, maar nou lê my drome aan skerwe. Hoe gaan ek nou vir my gesin sorg? En wat van my personeel en hul families? Ek voldoen aan ál die Covid-protokolle.”

In Conville naby George sê ’n 58-jarige taverner Maandag se aankondiging deur pres. Ramaphosa het hom onkant gevang.

“Ek het gedink ons sal nog toegelaat word om alkohol op sekere dae en tye te kan koop.

“Ja, die pandemie is op ons en dit was reeds ’n swaar jaar vir almal, maar die regering moet die ekonomiese deur vir ons oop los.

“My besigheid voer my gesin en ek betaal vir ál my dienste en vervoer uit die geld wat ek maak.”

Die meeste taverners met wie Son gepraat het, sê hulle het nie die shutdown verwag nie.

Ntsokolo Pote, die eienaar van The Black Joint Tavern in Bhongolethu, Oudtshoorn, stem saam met die ander twee en sê die lockdown het op ’n verkeerde tyd vir hulle gekom.

“Dis dié tyd van die jaar wat ons die meeste geld maak en nou sit ons met plekke vol voorraad, wat ons nie kan verkoop nie,” sê Pote.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters