20 dae gelede
Talle het snuf in neus oor syfers
MISTYKIE: Sindiswa Gomba vermoed ’n “human error” is dalk die rede vir die verkeerde Covid-19-sterftesyfer.  ~ Daily Sun

BAIE meer mense in die Baai is na bewering as gevolg van Covid-19 dood as wat die munisipaliteit te kenne gee – óf hy is self konfoes.

Sindiswa Gomba, LUR vir gesondheid in die Oos-Kaap, het vandeesweek onakkuraathede uitgewys in die getal Covid-19-sterftes in die Nelson Mandelabaai-metro.

Gomba is in die Baai om iets aan die probleem te doen.

Die LUR sê ’n ondersoek is aan die gang om vas te stel hoekom nie alle gevalle aangemeld is nie. Sy het belowe regstellende stappe sal gedoen word.

Luidens ’n amptelike grafika wat aan die media gestuur is, is 240 Covid-19-verwante sterfgevalle aangeteken.

In ’n latere persverklaring is gesê daar was tot dusver 336 sterfgevalle.

Dit het tot grootskaalse verwarring gelei.

Gomba sê dit lyk asof dit “human error” was en die ondersoek sal hopelik duidelikheid verskaf.

Intussen het Thsonono Buyeye, waarnemende burgemeester, sy kommer uitgespreek oor die hoë getal bevestigde gevalle van die dodelike virussiekte in ’n paar sogenaamde hotspots oor die munisipaliteit heen.

Teen 16 Julie was 1 956 Covid-19-gevalle in Motherwell aangeteken, 1 111 in Uitenhage, 1 036 in KwaNobuhle en 1 033 in KwaZa­khele.

Hoewel Covid-19 die hele munisipaliteit vol lê, het die res van die gebiede in die metro tot dusver almal onder 1 000 gevalle aangeteken.

Minstens 4 526 van die totale 14 655 gevalle het herstel.

Buyeye het gister die onderwerp van moontlike onderrapportering van die Covid-19-sterfgevalle vermy.

Moeilik

Hy het wel gesê: “Dit is hartverskeurend om te weet van die sterftes wat met Covid-19 verband hou, word veroorsaak deur eenvoudige nalatigheid deur sommige mense wat kies om rond te loop en wat dan die virus na hul gesin toe dra.

“Ek doen ’n beroep op ons mense, veral die jeug, om op te hou ronddwaal en sosiale byeenkomste hou.”

Buyeye dink dis “bemoedigend” dat 4 526 mense tot dusver van die corona-virus herstel het.

Shane Brown, voorsitter van die metro se Covid-19-rampbestuur-eenheid, sê werkgewers sal aanspreeklik gehou word vir werkers wat nie ’n masker dra terwyl hulle by die werk is nie.

“Dit kan moeilik wees om ure lank ’n masker te dra, maar dis wat van ons vereis word om ons veiligheid en dié van ons gesin en kollegas te verseker,” maan hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters