7 maande gelede
Ta se turf sit toe oor surf
VAS: ’n Surfer is in Langebaan op die strandgebied aangekeer.  ~ Twitter

’N BUITELANDSE man is in hegtenis geneem omdat hy by Langebaan gesurf het.

Die man is net ure ná die minister van polisie, Bheki Cele, se besoek aan die Weskus aangekeer.

Cele was juis op die strande om seker te maak dat die mense hier ook die Covid-19-regulasies nakom.

Volgens hom het hulle baie klagtes gekry dat mense die regulasie verontagsaam wat hulle verbied om op die strand te wees.

“Na wat ons verneem, is dit veral Europeërs wat hulle nie aan die vlak 3-regulasies van die nasionale inperking steur nie,” het die minister gister uit die Tuinroete laat hoor.

Soeklig

“Ons is hier om die wet te laat toepas. Die streek is al geruime tyd terug tot ’n hotspot verklaar.

Cele het sy strandbesoek-trippie Maandag in dié Weskusdorpie begin.

Die dorpies het onder die soeklig gekom toe daar bevind is van die inwoners besoek steeds die strande, al word dit nie onder vlak 3 van die nasionale inperking toegelaat nie.

Owerhede van die plaaslike munisipaliteite het ook die uitdaging gehad om vakansiegangers van kampterreine te verwyder.

Cele se eerste stop was by die Vredendal-polisiekantoor in Matzikama. Hy het alleen met beamptes vergader en later aan die media gesê sy besoek was om seker te maak dat almal die regulasies nakom.

“Wat ek verneem het, is dat mense steeds strand toe gaan, maar dat dit privaat strande is. Op vlak 3 is dit teen die wet om ’n strand te besoek, of dit nou joune is of nie.”

Cele en sy gevolg is ná die vinnige besoek in Vredendal na Lambertsbaai in Cederberg-munisipaliteit.

BESOEKTYD: Cele en sy gevolg in Elandsbaai. Skermgrepe verskaf

Die munisipaliteit het die naweek besoekers en vakansiegangers gevra om die oorde in Lambertsbaai en Elandsbaai te ontruim om ’n superspreader event te vermy, want hulle het net ses beddens vir Covid-19-pasiënte. Cele het ook Elandsbaai en Langebaan besoek.

In Elandsbaai was die strand verlate.

Nuuskierige inwoners het nader gestaan toe Cele van die strandgebied in Elandsbaai af kom.

Vergeefs

Hy het aan hulle verduidelik dat die Wes-Kaap op sy eie ’n hotspot is en dat die syfers in die kleiner dorpies aan die Weskus daartoe bydra.

Lutzville se inwoners het vergeefs gewag dat Cele in dié dorpie ’n draai maak.

“Ons het al gisteraand (Maandag) gehoor hy kom. Ons het vroeg gewas en ons reggekry vir hom. Van die grootmense het hul vrae op ’n blaai neergeskryf. Nou hoor ons hy het net die strande besoek,” het een inwoner afgehaal gesê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters