Verlede maand
Swartmark nie ’n plan
GAAN VOORT: Die hofuitspraak is nog nie gelewer in die twakverbod-saak nie.  ~ Gallo iStock

“DIE staat het nooit bedoel om ’n swartmark vir entjies te skep nie.”

Só het die regering se regspan Donderdag in die Kaapse hooggeregshof opgemerk in die hofsaak oor die omstrede tabakverbod.

Dit was nadat die regspan van British American Tobacco South Africa (Batsa) die vorige dag aangevoer het dat die sluikhandel in sigarette blom, terwyl hulle wat wettig wil handel dryf, nie mag nie.

Andrew Breitenbach, law­yer vir die staat, voer aan dat die verbod op die verkoop van entjies ’n ingewikkelde saak is wat meer as net die ekonomie behels.

“Ons het nie hier met ’n presiese wetenskap te doen nie. Dis baie tegnies.

Verlies

“Dit was nie die regering se bedoeling om ’n swartmark te skep nie.”

Volgens Breitenbach moet ons meer as net die verlies vir ons ekonomie met die verbod in ag neem.

Sover is al bereken dat R13,9 miljard weens die verbod verlore gegaan het.

Die staat voer egter aan die voordele vir die gesondheidsbedryf as gevolg van die verbod word op R42 miljard bereken.

Breitenbach het verder aangevoer die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, het die besluit nie alleen geneem om die verkoop van entjies te verbied nie.

Volgens die staat is dié besluit gesamentlik geneem ná besprekings deur die kabinet en Nasionale Corona-virus-bevelsraad (NCCC).

Al die kabinetsministers het aan dié gesprekke deelgeneem, het hy bygevoeg.

Uitspraak in die saak is voorbehou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters