17 dae gelede
Skooldeure toe vir vier weke
LUISTER: Só het Son die afgelope week in beeld gewys hoe mense oor veiligheid by skole betoog het.  ~ Peter Abrahams

OUERS, onnies en leerders kan hulle maar gereed maak vir skole wat vir die volgende vier weke gesluit gaan wees.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand aangekondig die skole sluit ná konsultasie met meer as 60 skoolverwante organisasies. Verskillende standpunte is in ag geneem, maar die prez het die belangrikheid van leerders se gesondheid én hul akademiese welstand benadruk.

Matrieks kry egter net ’n een week lange break en gr. 7 leerders kry twee weke.

Die onderbreking begin Maandag 27 Julie. Leerders moet dus op 24 Augustus terug wees.

Die gr. 12’s moet 3 Augustus terugkeer en die gr. 7’s val 10 Augustus in.

Die sluiting is nodig omdat die Wes-Kaap die peak van die uitbreking bereik het en hulle wil verhoed dat corona-virus-gevalle skerp styg.

Nadat daar gister binne net 24 uur byna 600 sterftes weens Covid-19 aangeteken is, het André de Bruyn, voorsitter van die onderwysersunie Eusa, aan Son gesê dit is die beste besluit om skole eerder weer te sluit.

Hy sê: “Ons wil net graag elke ouer, die skoolbeheerliggame, onderwysersorganisasies en lede van Eusa bedank vir hul herhaalde en voortdurende aksies wat deurgaans die druk op die departement van basiese onderwys gehou het.

“Vandat die oproep gekom het dat skole moet toemaak, het Eusa saam met verskeie rolspelers aanhou veg.

“Dít is uiteindelik ’n oorwinning vir elke rolspeler wat hiervoor gelobby het.

Veg

“Aan die ander unies wat vir die grootste deel van die geveg stil was, maar agterna uiteindelik hul stem by Eusa en ander organisasies gevoeg het, sê ons ook dankie.

“Eusa sal aanhou veg vir die bevryding van education en die regte van elke onderwyser, ondersteuningspersoneellid en leerders.

“Al probeer die onderwys departement soms lelike boelietaktiek, sal Eusa nie wankel in sy beginsels nie.”

Vanessa le Roux van Parents Against The Opening of Schools voel dat drie weke hopeloos te kort is om skole te sluit.

“Ons voel die kinders kan ná die peak terug skool toe gaan. Dit sal dán eers veiliger wees vir ons kinders om terug te gaan.

“In die meantime kan die kinders se pakkies skoolwerk by die skool afgehaal en weer afgelewer word.

“Onnies kan ook lesse via WhatsApp stuur sodat onderrig kan voortgaan sonder dat ons kinders in ’n klas sit,” verduidelik Le Roux.

’n Ouer, Loriaan Croy, van Scottsdene in Kraaifontein, sê sy is baie bly oor Rama­phosa se afkondiging.

Sy sê: “In die skole is ons kinders se lewe in gevaar, asook die res van die gesin s’n. Die kind tel die virus by die skool op, kom huis toe en steek dan die ouers daarmee aan.

“Hoewel kinders vinnig en maklik van die virus herstel, sterf die ouers.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters