10 dae gelede
‘Shelter-lewe is gehawend’
INSPEKSIE: Nqaba Bhanga spreek inwoners in die Jarman Hall toe terwyl Elsudi Camealio toekyk.  ~ Theo Jeptha

HAWELOSES wat vir beskerming teen die Covid-19-pandemie in onder meer die Uitenhage-stadsaal en Jarman Hall in Port Elizabeth gehuisves word, het gister gekla oor die min kos wat hulle kry en die gehalte daarvan.

Dié klagtes het uitgekom toe die DA in die Oos-Kaap gister ’n oorsigbesoek aan shelters in die Baai gedoen het.

Nqaba Bhanga, Oos-Kaapse DA-leier, sê mense kan nie sonder kos nie. Volgens hom is dit ’n basiese reg.

Hy sê die regering huisves die haweloses in die stadsaal om hulle te beskerm, maar as hulle nie kos kry nie (soos die haweloses beweer), word hul menseregte gevio­late.

Volgens hom kon die regering dan maar die mense gelos het dat hulle vir hulle werk kon gaan soek, maar nou “honger hulle die mense uit. Dit is ’n misdaad.”

Onmenslike

Bhanga sê die mense word “gevange gehou” deur die regering.

Volgens hom is mense inhok en om hulle (na bewering) te laat honger ly is die mees onmenslike ding wat hy die regering nog gesien doen het.

VEILIGE HAWE: Jarman Hall word netjies gehou en mense lyk heel gelukkig. Foto: Theo Jeptha

Bhanga sê hy het Edmund van Vuuren, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling, gevra om ondersoek in te stel na wie die tender gekry het om die haweloses dié kos te gee, want iets moet gedoen word.

Volgens Bhanga het dié mense hulp nodig van kerke en “ons almal” totdat die regering weer vrye beweging toelaat.

Hy sê die ekonomie moet oopgemaak word sodat die mense kan doen wat hulle moet.

Volgens hom moet daar ook streng sekuriteit ingestel word om die mense te beskerm.

SIT HAND BY: Randal Williams is een van die vrywilligers wat uithelp. Foto: Theo Jeptha

Raadslid Leander Kruger, die Oos-Kaapse DA- woordvoerder oor openbare gesondheid, sê die bestuur van die shelters is die munisipaliteit se verantwoordelikheid.

Hy sê die munisipaliteit is nou nêrens te vinde nie.

Volgens hom het die munisipaliteit nie ’n plan of oplossings nie. Hy beweer die munisipaliteit verskaf ook nie die versorging soos wat hy moet nie.

Kruger sê die DA verneem van inwoners van dié shelter dat hulle daagliks net twee maaltye ontvang en dat die gehalte van die kos swak is.

Volgens hom gaan hy dit self opneem met die uitvoerende direkteur vir openbare gesondheid en die stadsbestuurder. Hy wil uitvind wat die plan is, wat die prosesse is, wie die tender gekry het om kos aan die inwoners te verskaf en hoekom dít die gehalte van versorging is wat hulle ontvang.

Die DA het by sy besoek gesien daar is net een werkende toilet en wasbak. Die 32 mans en vroue moet dié maar deel. Die party het ook gesien daar was vandalisme.

LUISTER AANDAGTIG: ’n Hawelose man by die shelter in Uitenhage luister aandagtig na wat Nqaba Bhanga te sê het. Foto: Theo Jeptha

In Jarman Hall doen die vrywilligers wel besonderse werk, sê Van Vuuren. Hy sê hulle hou die plek netjies.

Volgens hom is almal soos ’n familie en almal is gelukkig.

“Daar word net nie genoeg voedsel aan die mense verskaf nie.”

Drie

Hy sê die mense kry net twee etes: een voor 11:00 en een voor 16:00.

BEKLA HUL LOT: Haweloses by die shelter in Uitenhage moan by die DA oor onder meer die min kos. Foto: Theo Jeptha.

Volgens hom kla die inwoners by dié shelter ook oor die gehalte en hoeveelheid.

Hy wil weet hoekom die mense net twee maaltye per dag kry en wie het die tender gekry het.

“As ék drie keer kan eet, hoekom kan hulle nie?”

  • Sien die kommentaar van die Oos-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling hiernaas.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters