Verlede maand
Samaritane voed armes
deel: Nakita Carelse (regs) help Sumaya Mohamed die heerlike sop opskep.  ~ 

“ONS weet wat dit is om niks in ons koskas te het nie. Ons weet wat dit is om met ’n leë maag te slaap.”

Só sê Sumaya Mohamed, ’n ma van drie met nóg een op pad. Sy het uit die goedheid van haar hart twee groot potte sop gemaak om aan haar bure in Delft uit te deel.

“Ek doen dit al van voor die lockdown. So, dit is nie iets nuuts vir my om uit my koskas te deel nie.

“Hier is baie mense wat honger is en nêrens het om te draai vir kos nie. So, dit is nie ’n moeilike besluit om te gee wanneer ek het nie,” sê Mohamed.

Sy het haar groentesop en brood Maandag uit haar voorkamer uitgedeel aan soveel kinders en volwassenes as wat sy kon.

Sakke

“Ek wil graag meer mense ondersteun, maar ek het net twee groot potte. Dit sal baie help as daar enige iemand is wat ons kan ondersteun sodat ons nie een keer ’n dag kos kan deel nie, maar twee of drie keer ’n dag,” sê sy.

Mohamed sê al werk haar man nie tans gedurende die lockdown nie, gee hulle nie om om uit hul eie sakke kos te maak nie.

“Ons doen wat ons kan vir ons medemens,” sê sy.

Intussen sê Nakita Carelse, wat Mohamed probeer help om donasies te kry, sy weet van kinders wat elke dag na Kuilsrivier stap om daar te gaan bedel vir kos.

“Dit is nie reg nie. Ons kan nie toelaat dat ons kinders so ver moet stap vir iets om te eet nie. Ons wil weet wat ons raadslid doen sodat ons saam kan werk om aan mense kos te verskaf,” sê sy.

Carelse sê intussen maak hulle hul eie reëlings om donasies te kry.

“Ons kan nie wag vir hulp nie. So, ons doen wat ons kan van ons kant af.

“Ons wil graag saam met ons raad werk om te verseker dat ons mense kan help. Ons doen ’n beroep op ons raads­lede om ons te ondersteun,” sê sy.

Raadslid Michelle Adonis sê sy doen alles in haar vermoë om inwoners by te staan en waardeer die poging van almal wat help om mense te voed.

“Ons werk tans met verskeie organisasies in die gemeenskap wat op die Stad Kaapstad se databasis geregis­treer is,” verduidelik Adonis.

Kontak

Adonis sê sy doen ’n beroep op organisasies of individuele wat tans besig is met sopkombuise om beslis na haar uit te reik.

Mohamed vra ook dat mense Carelse by 061 700 9625 kontak om ’n plan te maak om saam te werk.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters