4 maande gelede
Reus het snuf in neus oor verbod
MAGSPELETJIE? Baie mense is vies oor die drakoniese regulasies.  ~ Gallo iStock

TABAKBOERE voel nou ook die druk van die verbod op die verkoop van tabakprodukte.

Die South Africa Tobacco Transformation Alliance (Satta) eis dat die verbod opgehef word op vlak 3, wat Maandag begin.

Luidens ’n persverklaring deur dié vereniging vernietig die verbod tabakboere se bestaan.

Ntando Shadrack Sibisi, Satta-voorsitter, sê: “Dit is duidelik ander elemente is betrokke by die besluit om die verbod so rigied te hou en dit te verleng.”

Sibisi is ook die president van die Black Tobacco Farmers’ Association.

’n Paar weke gelede het pres. Cyril Ramaphosa aangekondig op vlak 4 sal mense weer tabakprodukte mag koop.

Toe kap dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, ’n U-turn en gebruik die gesondheidsnadele as rede. Luidens berigte wou sy ook hê die verbod moet eers op vlak 1 opgehef word.

Satta eis dat ’n kommissie van ondersoek aangestel word om die verband tussen die verkopers van onwettige tabakprodukte en hoëprofiel-politici te ondersoek, sê Sibisi.

Hy sê verder hulle as tabakvervaardigers wat alle prosedures volg en respekteer, is disgusted met hoe die regering hom blind hou en gevolglik onwettige verkopers verryk – sonder dat een sent in die staatskas beland.

Volgens hom het onwettige verkopers tydens die aanvanklike drie weke van lockdown al miljoene in verkope gemaak.

Twak wat eens R22,50 gekos het, kos nou al op die swartmark van R130 tot selfs R200 per pakkie.

Sibisi sê dit lyk of die regering onwettige verkopers ’n blank tjek gegee het om nóg miljoene te maak en onbepaald voort te gaan.

Volgens Sibisi maak die regering se sogenaamde gesondheidsredes eenvoudig nie sin nie.

Hy voeg by: “Wat ons meer bekommerd maak, is dat die doel agter die lockdown nooit was om die verkope van tabak te reguleer nie. Was dit nie om ’n virus te keer nie?

“Dit is ’n misbruik van politieke mag en regeringsprosesse dié om die grondwetlike regte van die wettige tabakbedryf en volwasse rokers te ondermyn.

Drie

“Ons het nooit verwag dat die regering sy rug só op die landbousektor sou draai nie.”

Volgens Sinenhlanhla Mnguni, ’n woordvoerder van Fair Trade Independent Tobacco Association, is Suid-Afrika een van net drie lande ter wêreld wat die verkoop van entjies onder sy lockdown-maatreëls verbied. Die ander twee is Indië en ons buurland Botswana.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters