12 dae gelede
Relief centre nou geloods
HULLE GEE OM: Mense het hul harte wyd oopgegooi om ál die kospakkies bymekaar te maak.  ~ Theo Jeptha

DIE Northerns se Covid-19 Relief Centre is gister met groot optimisme van stapel gestuur.

Die launch is by die Grootkloof-gemeenskapsentrum in Hillside gehou. Die projek gaan vanaf dié fasiliteit bestuur word.

Paramount chief Crawford Fraser, wat ’n assessor by die sentrum is, sê mense sal nie self na Grootkloof kom nie; die middele sal na hulle geneem word.

Fraser sê hulle wil weg­beweeg van duplikasie, waar een huis byvoorbeeld meer as een kospakkie kry en ander noustrop trek.

“Elke area gaan ’n koördineerder kry en die plan is om elke straat in die North­erns te bedien.

Gedelf

“Die plan is om kospakkies, hand sanitisers, maskers en sanitêre doekies te versprei.

“Ons is nog in die beginstadium. Soos skenkings en donasies inkom, sal ons heelwat uitbrei.”

Fraser het sy dank uitgespreek teenoor diegene wat diep in hul eie sak gedelf het om kospakkies, maskers en hand sanitisers beskikbaar te stel.

HOU BOEK: Crawford Fraser sê ’n databasis moet opgestel word om seker te maak die kospakkies bereik almal. Foto: Theo Jeptha

Die skakelbeampte van die sentrum, Noeleen Moodley, het ook haar dankbaarheid uitgespreek oor die kospakkies.

Sy het gesê dit sal voldoende voeding bied.

Korrupsie

Karen Kemp sal verantwoordelik wees vir die gesondheids-, veiligheids- en sekuriteitsafdeling.

Michelle Valentyn en Lee Bernardo se portefeulje is om te kyk of die kinders gereed is om terug te gaan skool toe.

Fraser het benadruk dat die dae van korrupsie met kospakkies op ’n einde moet kom.

Hy het bygevoeg hulle benodig meer assessors om ’n databasis op te trek oor wie in watter straat reeds pakkies ontvang het.

Die sentrum sal dan ál die besonderhede bekyk en sorg dat die kospakkies regverdig uitgedeel word, het Fraser belowe.

Volgens Fraser is dit hul mikpunt om doodseker te maak dat elke inwoner in die Northerns ’n masker en toegang tot handreinigers het.

Raymond Mateza sal op sy beurt mense help wat sukkel om toegang te kry tot die Covid-19-werkloosheidsfonds.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters