15 dae gelede
Regulasies van lockdown 'regverdig'
ndz
Nkosazana Dlamini-Zuma was 'n respondent in die saak.  ~ GCIS

'N AANSOEK om die lockdown-regulasies as ongrondwetlik en ongeldig te laat verklaar, het Vrydag in die Wes-Kaapse hooggeregshof misluk. 

Mpiyakhe Dlamini, Duwayne Esau, Tami Jackson, Lindo Khuzwayo, Mikhail Manuel, Neo Mkwane, Scott Roberts en Riaan Salia het laas maand die aansoek gebring.

Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, pres. Cyril Ramaphosa en die minister van handel, nywerheid en mededinging, was die respondente in die saak.

In haar uitspraak van 83 bladsye sê Regter Rosheni Allie sy is tevrede dat die regulasies regverdig is.

"Ek aanvaar dat nie almal tevrede is met die maatreëls nie en dat dit grootliks gekritiseer word. Die ongemak en ontevredenheid van die regulasies vir die applikante moet opgeweeg word teen die dringende doelwit en primêre grondwetlike plig om lewens te red," sê Allie.

"Dit is nie vir die howe om die regering voor te sê oor hoe dit sy mandaat in sulke omstandighede moet uitoefen nie."

Allie sê sy kon nie aan 'n argument dink wat meer vernietigend is vir die applikante se bewering - dat hulle in die publiek se beste belang optree - as hul argument, dat die regulasie om uitsettings op te skort, onwettig is nie.

"Ek is nie oortuig dat die applikante geregtig is op die hulp wat hulle soek nie," sê Allie. - News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters