22 dae gelede
‘Plunder-paartie’ ruk
LEË DOP: Só lyk ’n winkel nadat customers “shopping” gedoen het.  ~ Foto Verskaf

ALTESAAM 11 winkels van buitelanders is Maandag in die vroeë oggendure in Villiersdorp tot op die grond leeggedra.

Ál wat oorgebly het, was leë doppe nadat alles afgebreek en besteel is.

Die dorp was heelnag in rep en roer toe daar sommer so van winkel tot winkel ingebreek is, sê raadslid Rinah Mienies.

Volgens Mienies spruit die voorval uit ’n bakleiery wat tussen twee Somaliese winkeleienaars ontstaan het.

Mienies sê sy het ’n oproep van ’n komiteelid ontvang en dié het haar meegedeel dit lyk soos ’n xenofobie-aanval wat besig is om uit te breek.

Sy vertel: “Die een het probeer om ’n winkel op te sit en die ander een het hom confront oor broodpryse.

“Die bakleiery het ontstaan as gevolg van pryse en kompetisie. Daar is altyd ’n geveg van kompetisie en pryse betrokke by die bakleiery.

“Die stryery het later tot ’n bakleiery gelei. Hulle het mekaar verskriklik seergemaak en moes albei gehospitaliseer word.

“Die een se broer het my gesê hy is op pad Tygerberg Hospitaal toe en hy weet nie of sy broer dit gaan maak nie. Hy is in die ICU en dis baie ernstig.”

Mienies sê nadat die twee winkeleienaars mekaar byna doodgeslaan het, het “hooligans” hulle kans aangegryp om op die winkel toe te slaan.

Sy vertel verder: “Terwyl hulle baklei het, het die hooligans ’n opportunity gesien en aan die winkel begin kap.

“Die volgende oomblik was dit chaos en ek het die polisie gebel.

“Hulle het my gesê hulle is op pad, maar toe hulle daar kom, toe beweeg die gemeenskap na ander areas om die polisie te confuse.

“Só het hulle verder ingebreek. Dan is hulle hier, dan daar. Dis tóé dat Pops intree. Hulle was nog op pad, toe raak die looting al hoe erger. Verskeie winkels is geplunder.

“Dit was so deurmekaar en daar was soveel chaos. Die strukture is tot op die grond afgebreek en yskaste is weggedra. Die polisie kon nie eens die mense arresteer nie.”

“Ek het in my jaart gestaan om te probeer sien wat aangaan. Daar is traangas geskiet en die skote het heelnag tot omtrent 05:00 die oggend so voortgegaan.

“Dit was erg. Ek kon nie eens slaap nie.”

FREE! FREE! Dié winkel is omtrent ’n magneet vir gemeenskapslede nadat dit geplunder is. Foto Verskaf

Mienies sê daar is aanvanklik gedink 24 winkels is geplunder, maar law enforcement het bevestig dit was 11.

Gedra

Sy sê wat vir haar die ergste was, is dat niemand sosiale distansiëring toegepas of maskers gedra het terwyl hulle so geplunder het nie.

Lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ses verdagtes gearresteer is.

Traut sê: “Die polisie ondersoek die omstandighede rondom ’n voorval waarin winkels in Villiersdorp geplunder is.

“Ses verdagtes sal Woensdag (môre) vir openbare geweld en diefstal in die hof in Caledon verskyn.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters