Verlede maand
Plig voor paniek oor pandemie
VREES: Baie essensiële werkers in die Oos-Kaap is skrikkerig vir die gesondheidsgevare wat die corona-virus inhou.  ~ Foto ter illustrasie: Getty Images

’N PAAR mense wat by gesondheidsinstellings in die Oos-Kaap werk en tydens die lockdown aan diens is, sê hulle is skrikkerig vir die corona-virus.

Son op Sondag het Vrydag die strate ingevaar en ’n paar van hulle gepols oor hulle gevoel oor die Covid-19-pandemie.

’n Manlike werker erken hulle is bang vir die virus.

Hy sê hy het Vrydagoggend besluit om terug te gaan huis toe omdat niemand in sy departement opgedaag het vir werk nie.

Die man sê hy kan nie ál een wees wat daar werk nie.

Nog ’n werker sê natuurlik is hulle bang vir die virus, want hulle is net mense. Volgens haar het hulle darem genoeg beskerming by die instelling.

’n Ander werker met wie Son op Sondag gesels het, sê almal is bang vir die virus, en dis natuurlik om bang te wees. Volgens haar is daar mense wat uit vrees vir die virus nie kom werk het nie.

’n Ander werker sê dis nou baie scary om te gaan werk, want mense sterf. Volgens haar weet sy nie of sy hierdeur sal kom nie.

Sy sê hulle sit hulle lewe op die spel, want hulle werk met die pasiënt en dit, sê sy, beteken hulle is aan die front line.

Dapper

Volgens haar sal hulle nietemin dapper genoeg wees om ’n pasiënt te help, hoewel hulle weet hulle plaas hulleself in gevaar.

Vir haar is die disadvantage dat sy nie huis toe kan gaan nie, want haar familie woon in ’n ander provinsie.

Sy sal haar vir die virus moet laat toets voordat sy teruggaan na haar mense toe.

Ter wille van haar man en kinders moet sy dus maar eers bly waar sy is.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters