12 dae gelede
Plan ’n teer punt
ONMIN: Inwoners is haaks oor hierdie tydelike vestings waarmee die Oos-Kaapse regering digbevolkte plakkersgebiede wil uitdun om die verspreiding van Covid-19 te verminder.  ~ Mkhuseli Sizani

’N VERGADERING oor ’n Covid-19-hervestigingsplan wat bejaardes en gestremdes se lewe makliker moes maak, het lelik in die hek geduik.

Die vergadering is Dinsdagaand by die Bethelsdorp Polisiestasie in die Baai gehou.

Beamptes van die Nelson Mandelabaai-metro se departement van menslike nedersettings en van maatskaplike dienste het met gemeenskapsleiers vergader.

Planne om nege tydelike strukture in Jaagvlakte op te rig, is bespreek.

Hulle kon egter nie ’n ooreenkoms bereik nie.

Inwoners van die Vastrap-plakkerskamp hou vol dat Jaagvlakte aan hulle behoort en dat dit hulle is wat in die nuwe site hervestig moet word.

Die verskuiwing van Vastrap se inwoners na Jaagvlakte het in Maart tot stilstand gekom nadat slegs 117 shack-bewoners daarheen verskuif is.

Vastrap se mense skop tans vas teen die mayco-lid vir menslike nedersettings, Andile Mfunda, se voorstel dat die sites 50/50 verdeel moet word tussen inwoners van Vastrap en Jaagvlakte.

Die Oos-Kaapse departement van menslike nedersettings is tans in ’n stryd teen tyd gewikkel om digbevolkte areas uit te dun uit vrees dat die gevreesde Covid-19 chaos in sulke gebiede kan veroorsaak.

Daniel Makeleni, ’n gemeenskapsleier in Vastrap, sê die vergadering het skeefgeloop toe hulle meegedeel is dat net één Vastrap-inwoner en agt mense van die Qunu-plakkerskamp na die Jaagvlakte-site verskuif gaan word.

“Ons het ’n groep van sowat 22 bejaarde en gestremde inwoners wat al jare in onhigiëniese toestande in containers bly.

“Die plek waar hulle bly, is vol vullis en k*k, maar die munisipaliteit wil hulle agterlaat deur inwoners van ander areas te relocate?” vaar ’n ontevrede Makeleni uit.

Onmin

Die wyksraadslid, Vukile Dyele, sê die huidige onmin is niks anders as ’n misverstand nie.

“Hierdie is ’n spesiale Covid-19-hervestigingsprojek, en nie die 50/50-voorstel waarvoor die inwoners nie ten gunste is nie.”

Volgens Dyele het die ontevrede gemeenskapsleiers intussen ingestem dat daar ’n 50/50-verteenwoordiging in die huidige relo­cation gaan wees.

Pleks van die aanvanklike nege, sal daar nou tien mense verskuif word na Jaagvlakte, verduidelik Dyele.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters