17 dae gelede
Plaaswerkers ly ook weens die pandemie
staan saam: Plaaswerkers het by die SA Menseregtekommissie gaan praat.Foto’s: peter abhrahams  ~ 

GERUGTE doen die ronde dat plaaswerkers weens die corona-virus afgedank kan word.

’n Optog is Vrydag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) in Kaapstad gehou om die saak te bespreek en om die plaaswerkers oor die algemeen aangehoor te laat word.

Wendy Pekeur, stigter van die Ubuntu Rural Women and Youth Movement, sê hulle het gehoor van seisoenwerkers wat op ’n plaas in Stellenbosch werk wat afgedank is.

“Nog werkers op buurplase is gevra om twee weke verlof te vat en by die huis te bly.”

Pekeur sê die SAMRK moet tussenbeide tree en die werkers help. “ ’n Verslag met aanbevelings is reeds in 2003 opgestel, maar ons het nog niks gehoor nie.

Erkenning

“Veral nou met die corona-virus moet ingegryp word sodat mense nie hulle werk verloor nie. Ons werkers moet beskerm word.

“Ons wil hê plaaswerkers en veral die vroue moet meer erkenning kry.”

’n Plaaswerker, Elizabeth Pietersen, sê sy en ander werkers het verlede jaar kontrakte geteken om tot volgende jaar te werk, maar is Dinsdag gevra om gaan.

“Weens die corona-virus is ons nou sonder werk en ons het nie ’n inkomste nie.”

Ronda Daniel, marketing en hospitality manager van die wynlandgoed Rust en Vrede, sê dit is nie net die wynplase nie – dit raak almal.

“Ons wag almal om te sien wat die impak is, maar besigheid is af en ons het geen werkers ontslaan nie.”

’n Bestuurder by die Lynx Wine Estate sê besigheid is af en baie oorsese besoekers is terug huis toe. “Ons wine tasting is ook af.

“Ons moet aangaan met die besigheid soos altyd en ons kan nie bekostig om enige iemand te laat gaan nie. Ons moet die storm deursien.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters