4 maande gelede
Pasop vir ’n slang in die as
’N MISSION: Dit verg elke dag vier kilometer se stap om by water uit te kom.  ~ Mkhuseli Sizani

WAAR daar ’n rokie is, is daar gewoonlik ’n vuurtjie.

Maar dit kan ook wees dat dié rokie daar is om die slange weg te hou.

Terwyk rokers moan dat hulle weens lockdown nie kan rook nie, moet inwoners van die Bayland-plakkerskamp rook stook as hulle wil gaan number two.

Die rede? Slange in die bosse wat moontlik in die ongemaklikste plekke kan inkruip as jy nog so hurkend die natuur begroet.

En met antie Corona wat nou ook al die Baai so beloer, sê inwoners hulle kan nie langer met hierdie bos-gedagtes voortploeter nie.

Deel

Twee jaar nou al moet die inwoners hulle ding op hierdie wyse in die bos doen – met ’n vuurtjie byderhand om die slange weg te hou.

En as hulle klaar is, moet hulle drink- en handewas-water uit ’n gebreekte pyp met koeie en honde deel.

Dié kamp lange die Uitenhage-pad het in 2018 ontstaan. Daar staan tans sowat 800 shacks. Inwoners se toegang tot vier gemeenskaplike krane beteken ’n staptog heen en weer van 4 km.

Vir hierdie inwoners is elektrisiteit ook net ’n woord in die woordeboek.

Moerige inwoners het op 25 Maart vanjaar die strate ingevaar en getoi-toi vir dienslewering. In die proses het hulle busse op die R75 aan die brand gesteek.

Maar toe kom steek Covid-19 ’n stokkie voor enige verdere protes.

DEEL: Inwoners moet eers wag dat koeie en honde klaar drink voordat hulle drinkwater kan skep. Foto: Mkhuseli Sizani

Phumeza Johnson (42), ’n ma van drie, sê om só te leef, is erger as om in die rural areas te lewe.

“Twee jaar nou al moet ek water met koeie en honde deel. Ek moet wag totdat die diere klaar water gedrink het voordat ek vir my gesin drinkwater kan skep.

“Die munisipale water-trok bring slegs soggens vir ons water,” vertel sy moedeloos.

Sy sê verder hulle moet hulle ding in die bos of in puttoilette doen en sê as dit reën, strike die stront behoorlik die fan.

Krioel

“As dit reën, loop die stront in die stukkende waterpyp in waar ons ons water kry. Ons kan nie eens hierdie water kook nie, want ons kry krag vanaf ’n ligpaal wat net van 06:00 soggens tot 18:00 brand.”

Johnson sê hulle plek krioel so van die slange dat hulle vuur moet maak om die slange weg te hou wanneer hulle number two.

Sinazo Booysen (18) sê die water van die munisipale trok het haar en haar sibbes ’n veluitslag gegee. Volgens ’n gemeenskapsleier, Nomonde­ Soga, het die munisipale trok Donderdag laas water by hulle kom aflewer.

’n Woordvoerder vir die Nelson Mandelabaai-metro, Mthubanzi Mniki, beloof al sedert 11 Mei om aan die kwessie aandag te gee. Meer as twee weke later is daar g’n sien van sy kommentaar nie.

Die plaaslike raadslid, Andile­ Lungisa, beantwoord ook al sedert 13 Mei nie Son se telefoonoproepe en boodskappe nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters