4 maande gelede
Ouers wil staat hof toe vat oor skole
BEKOMMERD: Vanessa le Roux van Parents­ Against the Opening of Schools sê die staat is besig om bully te speel.  ~ Peter Abrahams

OUERS dreig om die staat hof toe te sleep oor die beplande heropening van skole.

Dit kom nadat die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, Dinsdagaand regstreeks op televisie aangekondig het skole moet reeds op 1 Junie begin heropen.

Skole is reeds meer as twee maande gelede weens die corona-virus-pandemie en die gevolg­like lockdown gesluit.

’n Veldtogbestuurder van Parents Against the Opening of Schools, Vanessa le Roux, sê hulle het daarin geslaag om law­yers te kry wat Motshekga-hulle in die hof kan aanvat.

Die Facebook-blad wat Le Roux net ná Motshekga se aankon­diging gestig het, het gister namiddag reeds meer as 13 000 lede gehad.

Hulle wil ’n interdik bekom teen die oopmaak van skole totdat die departement van basiese onderwys maatreëls in plek het om die leerders en onnies teen Covid-19 te beskerm.

Le Roux sê: “Ek dink dis ’n algemene gevoel onder ons as ouers. Ons is bang.

“Ons het baie inligting gekry oor die verspreiding van die virus en die impak daarvan. Dis nie iets wat ons ligtelik opneem nie.

Ongelyke

“Ons is bekommerd oor ons kinders se veiligheid. Daar is ’n gevoel onder ouers dat die departement versigtig moet optree.

“Ons lewe in ’n ongelyke samelewing, so wat vir die een geld, geld nie vir die majority nie.

“Die meeste van ons kinders is arm en sit in oorvol klasse. Hulle moet stationery, banke en handboeke deel.

“Die onderwysers is in gevaar. Kinders is in gevaar. Ons vra: Wat is die rush? Ons sê nie skole moet nie oopmaak nie.”

Volgens Le Roux is Motshekga besig om ouers en kinders te boelie om terug te keer skool toe.

Sy sê: “Hulle kan ons nie verseker dat ons kinders veilig sal wees nie. Tweedens is die minister ’n boelie in die hele proses, want die law verwag van ons dat ons kinders in die klas­kamers moet wees.

“Hoe stuur jy jou kind as jy weet hy is nie veilig nie en boonop loop die kind om huis toe te kom en huismense te kom aansteek.”

Le Roux sê sy het met lawyers vergader en hul besluit is om Motshekga in die hof te chal­lenge.

Jerald Andrews van Jerald Andrews Attorneys gaan binne die volgende paar dae ’n dringende hofaansoek daaroor bring.

Dieselfde regsfirma het in 2012 die sluiting van 27 skole in die Wes-Kaap stopgesit.

Intussen was die grootste vakbond in die land vir onnies, die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou), gistermiddag steeds besig om sy lede te pols rakende Motshekga se besluit.

Die uitslae van die interne stemmingsproses sal na verwagting die pad vorentoe vir Sadou bepaal.

Bestel

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, sê die voorbereidings vir die heropening van skole het reeds ver gevorder, maar sommige aspekte moet nog afgehandel word.

Volgens haar het die WKOD reeds maskers, sanitisers, seep, bleach­ en termometers bestel wat teen volgende week by skole afgelewer sal word.

Siek leerders mag by die huis bly, maar ouers moet briewe onderteken­ om te sê hulle sal die kinders by die huis met skoolwerk help.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters