Verlede maand
Ouers vertrou kids is veilig
skool
EERSTE DAG: Ná 64 dae by die huis neem die gr. 7’s van die Primere Skool Uitsig hul plekke in.  ~ Jonathan Lestrade

DIE gesondheid en kosbare lewe van sy dogter is die belangrikste.

Dan volg haar skoolwerk.

Só sê Larey Maarman gisteroggend toe hy sy dogter, Sharmondelay, na Tygersig Primêr in Uitsig neem.

“Ek wil self gaan sien of alles in plek is soos die skool gesê het,” sê hy.

Voorbereid

Sharmondelay was netjies geklee in haar swart-en-geel skooluniform en ’n geel masker om haar neus en mond. Ná 64 dae tuis is sy gereed om terug te gaan skool toe.

“Vir my was dit belangrik om te sien dat my kind in goeie hande gelaat word en dat die skool goed voorbereid is om voort te gaan,” sê die pa.

Maarman sê nadat hy alles deurgekyk het, voel hy gemaklik om haar skool toe te stuur.

“Haar gesondheid is belangriker, maar haar skoolwerk en skoolloopbaan is ook net so belangrik.

“Sy weet wat sy moet doen om haarself te beskerm. Voordat sy nou skool toe is, het ek haar herinner om altyd haar masker aan te hou.

“Ja, dit is iets waaraan sy gewoond moet raak, maar sy weet wat sy moet doen.”

Maarman het sy dogter ook daaraan herinner om nie vir vriende of onderwysers drukkies te gee nie.

“Ek het vir haar verduidelik van die social distancing en hoe belangrik dit is om daai distance te hou. Ons weet mos hoe kinders is, hulle wil drukkies gee, maar nie meer nie. Nie nou nie,” sê hy.

Intussen het gr. 7-leerders van die Primêre Skool Uitsig ook by die skool opgedaag.

Leerders is elkeen met ’n temperatuurmeter getoets, hul hande is ontsmet en dan is hulle ’n reeks vrae gevra.

Een van die vrae is of hulle in kontak gekom het met enige iemand wat positief getoets is vir die virus.

Sodra die leerder by ’n opvoeder die groen lig kry, word hulle na ’n klaskamer geneem.

Hekke

In die klaskamer word hulle deur ’n opvoeder verwelkom en die sitplek word aangewys waar hulle elke dag sal sit.

Aldenro Jacobs het sy seun, Aldeno Muller, tot by die skool se hekke gebring. Hy sê hy voel gemaklik daarmee om sy seun skool toe te stuur.

“Ek vertrou dat die opvoeders en hoof mooi na my kind en al die kinders sal kyk. Ek vertrou dat hulle die skooljaar sal klaarmaak,” sê hy.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters