9 dae gelede
Ouers pleit dat skole eerder sluit
RED ONS KINDERS: Skoolouers staan saam en betoog teen skole wat oop bly vir leerders.  ~ 

“DAAR is te veel onderwysers wat aan Covid-19 sterf, daarom smeek ons dat die departement skole toemaak.”

Ouers en leerders het gister in Mitchells Plain saam betoog teen die heropening van nog grade volgende week.

Voor die Parkhurst Primêre Skool in Mitchells Plain het ouers die koue weer trotseer en gesê hulle is bekommerd oor onderwysers en leerders.

Volgens die ouers is daar te veel gevalle en hulle meen die gr. 7’s en matrieks moet klaarmaak.

’n Onderwyser wat verkies om anoniem te bly, sê in haar 38 jaar van onderwys was sy nog nooit so bang om skool toe te gaan soos nou nie.

Die juffrou meen leerders cope ook nie goed in die huidige omstandighede nie.

“Ons is lief vir ons werk, ons kinders, maar ons is ook mens en ons vrees vir ons lewens.

Ondersteuning

“Elke tweede dag hoor jy van gevalle en dan wonder jy, is ek next?”

Dié plakkate vertel hoe mense voel oor skole wat oop bly. Foto: Tracy-Lynn Ruiters

Die juffrou sê dis baie moeilik vir die kinders.

“Hulle kan nie kinders wees nie. Hulle is net so bang en dit meng in met die skoolwerk.”

Die juffrou sê sy is dankbaar vir die ouers se ondersteuning.

“Ons kan al klaar nie oor ons gevoelens praat nie. Ons word op die voorfront geforseer, met die besluitnemers wat veilig in hul kantore sit.

“Hul kinders is in privaat skole en kan data bekostig. So, óns kinders is die minste van hul worries. Hieroor sal ek nie meer stilbly nie.”

Ilhaam Adams, ’n skool­ouer, sê haar kind kan eerder ’n graad oordoen as om graf toe te gaan.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters