Verlede maand
Opskep eerder as ’n opskop, please!
gee terug: Hanning wil op haar verjaardag 21 potte kos aan minderbevoorregtes skenk.  ~ 

“EK SOEK nie ’n koek of 21st-sleutel nie.”

Só sê Kaneasha Hanning van Bonteheuwel.

Vir haar 21ste verjaardag wil sy wegbreek van die tradisies wat ons almal ken.

“’n Groot paartie is nie iets wat ek wil hê nie.

“Om terug te gee aan my bure en inwoners wat minderbevoorreg is, dít wil ek wel hê,” sê Hanning.

Die jong vrou wil graag tussen Junie en 7 Augustus, wanneer haar verjaardag is, 21 potte kos bymekaarkry en dit dan aan gemeenskappe skenk waar sy weet mense dit nodig het.

“Ek weet nog nie hoe ek dit gaan regkry om die 21 potte kos bymekaar te kry nie, maar ek glo dit sal gebeur,” sê sy. 

Laaste

Hanning sê sy doen dit omdat sy weet wat dit is om nie te hê nie.

“My ma, Michelle, is ’n enkelouer. Sy probeer haar beste om vir ons kos op die tafel te sit. Ek waardeer alles wat sy doen – nie net vir my nie, maar vir almal met wie sy in kontak kom.

“My ma is die tipe persoon wat haar laaste sal gee, al weet sy ons het dit ook nodig,” verduidelik sy.

Hanning sê haar ma se goeie hart is haar inspirasie om ook haar deel te doen.

“Ek het geleer om te waardeer wat ek het en dit is waarom ek nie ’n rede sien dat ek ’n groot affair moet maak van my 21st nie,” vertel sy.

Sy voeg by dat haar doel is om met die hulp van die publiek 21 potte kos te verskaf aan minderbevoorregte mense en dat dit dalk die begin van iets groters kan wees dié.

“Ek weet nie waarheen so ’n inisiatief kan gaan nie, maar ek hoop dat ander mense geïnspireer sal wees en ook in plaas van ’n groot partytjie te wil hê eerder iets vir iemand anders sal doen,” sê sy.

Enige iemand wat Hanning graag wil help om haar droom vir haar verjaarsdag te bewaarheid, kan vir Lucinda Beukes kontak by 084 727 8451.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters