Verlede maand
Opod se hande vol
Petrus Miggels  ~ Foto Verskaf

’N POLISIEMAN van Saldanha wat na bewering sy vrou 20 dae lank herhaaldelik verkrag het, is een van vele beamptes wat op die oomblik deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek word.

Sedert die begin van die Covid-19 lockdown het Opod sy hande vol met klagte oor die polisie. Maar net 21 van dié honderde klagte was vir hulle bedoel, vertel Sontaga Seisa, woordvoerder van die polisiewaghond.

Volgens Seisa is die beampte wat na bewering sy vrou verkrag het nog nie in hegtenis geneem nie.

“Daar word beweer dat die man van 8 Maart tot 28 Maart sy vrou in hulle huis opgesluit en haar herhaaldelik verkrag het.

“Ons het ’n dossier van geslagsgeweld geopen. Ons is steeds besig om tegniese inligting in te samel vir die ondersoek.”

In nog ’n geval ondersoek Opod die dood van Petrus “Pietman” Miggels (55) van Uitsig.

Son op Sondag het berig die man het so groot geskrik toe die polisie hom met twee biere gevang het, dat hy dood neergeslaan het.

Seisa se voorlopige ondersoek dui daarop dat Miggels deur beampte(s) aangerand is.

In Langa het die polisie ’n verdagte motor agternagesit.

“Toe die voertuig stop, het een van die insittendes ’n beampte met ’n mes gedreig. Die beampte het retaliate en die man noodlottig gewond.”

Seisa sê die ander voorvalle van die 21 wat in die ander provinsies aangemeld is, sluit in die afvuur van ’n vuurwapen, aanranding en korrupsie.

In Gauteng is nog ’n moord deur ’n polisielid aangemeld.

Seisa het egter weer die mense aangeraai om hulle nie vir allerhande goed te bel nie.

“Ons het ’n 24-uur-bystandslyn vir elke provinsie.

“Mense is welkom om ons te bel vir voorvalle wat wel binne ons mandaat val,” aldus Seisa.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters