12 dae gelede
Onnies in SA betoog
PROTOKOL: ’n Leerder wag op 1 Junie om gescreen te word toe skole ná die ergste lockdown weer oopgemaak het. Foto’s: Peter Abrahams  ~ 

Sluit die skole!

Dit is wat mense vandag uit 'n landwye betoging wil hê. 

Dis om onnies en leerders te beskerm teen die gevreesde corona-virus.

Vanessa le Roux van Parents Against the Opening of Schools sê dié besluit is geneem nadat hulle Saterdag ’n vergadering met die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) gehad het.

Le Roux sê soos dit vir haar lyk, is daar geen menslikheid in die WKOD nie.

Sy verduidelik: “Nie eens in dié situasie, waar daar daagliks duisende positief getoets word, wys hulle enige menslikheid nie.

“Nie eens nadat daar reeds hoeveel onderwysers gesterf het nie.

“Ek ondersteun enige gemeenskapsaksie teen die oopmaak van die skole. Die ouers wat steeds hul kinders skool toe stuur, moet besef dat die departement geen verantwoordelikheid neem vir jou kind nie.

Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, het hulle verlede week gesien hoe skole deur gemeenskappe en civic-organisasies ontwrig word.

Hammond sê: “Hul aksies stel die lewens van ons kinders en onderwysers in gevaar.

Videogrepe wys hoe mense skole binnegaan sonder om maskers korrek te dra of sosiale distansiëring toe te pas.

“Dit wys ook hoe organisasies leerders pad toe neem. Dít help ons nie om ons opvoeders en leerders veilig te hou nie.

“As ’n departement voer ons instruksies uit wat deur die nasionale minister afgekondig is en deur die president en National Coronavirus Command Council (NCCC) ondersteun word om skole in fases te open.”

Hammond sê hulle verwag dat daar gevalle van Covid-19 by skole sal wees, net soos daar gevalle in gemeenskappe is. Sy voeg egter by dat hulle nie kan sien dat daar méér gevalle by skole sal wees as enige ander plek nie.

Hammond verduidelik: “Waar skole sake aangemeld het, het die meeste slegs een geval gehad. So, daar word nie massaverspreiding by skole­ aangemeld nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters