25 dae gelede
Nie terug skool toe: Ouers het drie opsies
ANGSTIG: Ouers het laas week strate toe gegaan om hul stem dik te maak en ’n beroep op die departement van onderwys te doen om die skole te sluit.  ~ Jonathan Lestrade

OUERS het drie opsies om te oorweeg as hulle verkies om hul kind of kinders nie terug skool toe te stuur nie.

Die onderwysdepartement bied ouers of voogde die opsie om aansoek te doen om hul kind by die huis te hou vir die afsienbare toekoms en toesig te hou oor sy of haar skoolwerk.

Geëis

Ouers en skoolbeheerliggame regoor die provinsie het tydens verskeie protesaksies en vreedsame pickets by die Wes-Kaapse onderwysdepartement stem dik gemaak oor die opening van skole weens die Covid-19-pandemie.

Hulle het geëis die skole moet sluit weens die aantal onderwysers en personeel wat geraak is deur die virus, maar ook omdat die lewens van leerders en hul families in gevaar gestel word as die leerders skool toe gaan.

Dit blyk dat hul stemme wel gehoor is en ouers kan nou drie opsies oorweeg wanneer hulle ’n besluit neem oor hul kinders se toekoms op skool.

In ’n onlangse brief wat die hoof van onderwys in die Wes-Kaap, Brian Schreuder, onderteken het, word ouers oor dié opsies ingelig.

In die brief sê Schreuder hulle besef sommige ouers is steeds angstig oor verpligte skoolbywoning ten spyte van al die gerusstellings wat deur mediese spesialiste gegee is.

Schreuder sê dit is veral noodsaaklik dat die gr. 12’s die maksimum leergeleenthede kry in die beskikbare tyd om hulle voor te berei vir die eksamen vir die nasionale senior sertifikaat.

Aansoek

Verder in die brief sê hy die departement van basiese onderwys het deur middel van riglyne ’n omgewing geskep vir die ouers wat vir hul kinders vrystelling van verpligte skoolbywoning verlang.

Artikel 6 van die betrokke riglyne dui aan dat ’n ouer by die hoof van onderwys moet aansoek doen vir so ’n vrystelling.

Die drie opsies is:

  • Die aansoek om ’n leerder vry te stel van verpligte skoolbywoning;
  • Aansoek om ’n leerder tydelik en voorwaardelik van verpligte skoolbywoning vry te stel;
  • Die laaste opsie is die deregistrasie van ’n leerder en aansoek vir tuisonderwys.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys voeg by hy sal ouers betyds via die skool laat weet wanneer hierdie tegemoetkoming beëindig word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters