14 dae gelede
Negative, maar kry aanstote
MORSIG: Dié emmer wat vol stront was, is deur gemeenskapslede na Priscilla Moodley se huis gegooi.  ~ Peter Abrahams

’N VROU voel haar vel is van haar gesig afgetrek toe ’n verpleegster haar lelik voor gemeenskapslede beledig het oor haar Covid-19-toetsuitslae.

Al was die uitslag negatief, het Priscilla Moodley van 7de Laan in Valhalla Park steeds onder sommige inwoners deurgeloop.

Haar hokkie is met ’n emmer vol ontlasting gegooi en enige tyd wanneer sy in die straat loop, moet sy hoor hulle is die corona-familie.

Mense het ook by haar hokkie opgeruk om haar en haar gesin seer te maak.

Moodley sê sy moes vir ’n week vlug na Simonstad, waar haar dogter woon.

Volgens Moodley het sy op 18 April erg siek geraak. Sy is na die Elsies-daghospitaal, waar sy twee inspuitings en medikasie ontvang het.

“Ek is gevra om die next dag terug te kom vir ’n TB- toets oor ek ’n seer keel gehad het, maar ek was te siek om te gaan.

“Paar dae daarna het ek na die Ruyterwacht Hospitaal gegaan.

“Ek het ’n TB- toets gedoen en die suster het aanbeveel dat ek ’n Covid-19-toets laat doen. Die toets is gedoen en sy’t aanbeveel dat ek drie dae tuis bly totdat ek die uitslae kry.

“Ek het haar gesê ek het afspraak op 23 April by die Bishop Lavis-daghospitaal.

“Sy’t gesê ek moet bewys van my toets saamneem.

Moodley sê toe sy by die daghospitaal aankom, het sy die brief gegee aan ’n suster wat met die brief by die daghospitaal in is.

Volgens Moodley het sy gedink die suster neem dit in om uit te vind of sy in die daghospitaal toegelaat kan word, maar dit was toe nie die geval nie.

Moodley vertel verder: “Sy het teruggekom en niks gesê nie. Ek het toe gevra wat sê hulle, wat moet ek doen?

“Ek wou weet of hulle my gaan help, want ek wou nie verniet wag nie.

Polisie

“Sy het die brief terug­gegee en voor die community op my geskreeu sy hoor dat ek Covid-19 het.

“Sy’t gesê ek moenie daar wees nie en sy gaan die polisie bel om my toe te sluit.

“Ek het haar net gevra hoekom sy my humiliate en embarrass.

Moodley sê sy het huis toe gestap en gaan slaap oor haar bloeddruk baie hoog was.

Toe sy later wakker word, was daar mense om haar huis wat skree die familie het die corona-virus.

Maret Lesch, ’n woordvoerder vir die departement van gesondheid, sê wanneer daar met ’n Covid-19-pasiënt se status gewerk word, speel vertroulikheid ’n groot rol.

Lesch sê hulle verstaan wanneer daar wêreldwyd ’n bedreiging soos Covid-19 ondervind word, voel baie mense angstig, bang, verward en oorweldig. Sy moedig egter die gemeenskap aan om vir mekaar om te gee en nie sommer net aan te neem iemand het Covid-19 nie.

Lesch sê hulle sal aandag aan die saak gee.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters