Verlede maand
’n Kykie na week 1 van lockdown
UITGESORT: In hierdie tye van paniek vergeet die Oos-Kaap nie van sy haweloses nie.  ~ Theo Jeptha

DIE eerste week van lockdown in die Oos-Kaap was een van flouval-oomblikke, minagting van die reëls en dronkies wat skarrel vir ’n dop.

Die Oos-Kaap is een van daai wêrelddele wat jou asem met sy natuurprag kan wegslaan.

Maar dit is ook ’n landskap van skrille kontraste in terme van dié wat het en diegene wat glad nie het nie.

Om corona die nekslag toe te dien, gaan ’n bomenslike poging verg in ’n provinsie waar mense in informele nedersettings die armste van die armstes bly.

Tydens die eerste paar dae was dit egter vir almal duidelik wanneer die nood in ander se lewe druk, tree die Oos-Kapenaars na vore en help mekaar.

’n Baie goeie voorbeeld hiervan is hoe mooi daar tans omgesien word na die Baai se haweloses.

Tekorte

Een van die beste wapens teen die Covid-19-pandemie is om jou hande gereeld met seep en water te was. Daar is egter nog veels te veel informele woonbuurte in veral die North­erns waar mense nou al jare sonder water sit.

Hierdie tekorte is alles potent bestanddele vir ’n ramp. ’n Mens kan net hoop dat die Oos-Kaapse regering dag en nag werk om seker te maak dat alles in plek is wanneer corona met ’n vaart in die provinsie uitsteek.

Ons het hierdie afgelope week breedvoerig berig oor ’n provinsie wat ryk is aan vriendelikheid en omgee, maar verskriklik arm is as dit kom by al die broodnodige toerusting om dié dodelike virus af te weer.

’n Mens kan maar net hoop dat die lot van ons mense mettertyd sal verbeter ...

TE VEEL: Sassa-begunstigdes ly weens die corona-drama. Mary Bartness het ’n asma-aanval gekry en flou geraak.

Hier is ’n paar stories wat hier die week uitgestaan het:

Haweloses: Daar word omtrént mooi omgesien na dakloses wat tans in die Jarman Hall gehuisves word. Nie net het hulle nou ’n behoorlike dak oor hulle kop nie, hulle kry gereelder en voed­samer maaltye. Dis iets waaroor hulle baie dankbaar is. Baie van hulle sien nie meer kans vir ’n lewe op straat nie.

Water-kopseer: Ons word almal vertel heeltyd water en seep, sowel as hand sanitiser, is die corona-­virus se moses, maar daar is baie gemeenskappe in die Oos-Kaap wat al jare nie toegang tot water het nie.

Sassa vs. Covid-19: Die oproep vir social distancing is hierdie week behoorlik getoets toe maatskaplike toelae aan sowat 17 miljoen Sassa-begunstigdes uitbetaal is. Selfs hier in die Oos-Kaap het ons gesien hoe mense flou raak, knap teenaan mekaar in lang, lang rye staan en ure in son, wind en weer moet staan om uiteindelik pootuit in ’n winkel te kom.

Die “pyn” van ’n drinker: Lock-down 2020 beteken ongelukkig nie twenty-plenty vir ’n drinker nie. Menige het vandeesweek teenoor Son gekla hoe dit nie net ’n stryd is om ’n dop in die hande te kry nie, die eienaars van die smokkies buit hulle ook goed uit deur hulle nou duurder te charge vir hulle lawaaiwater.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters