27 dae gelede
Minister sê inwoners hou by reëls
INSPEKSIE: Albert Fritz en Bonginkosi Madikizela hou sake fyn dop tydens die padblokkade op die M5-snelweg.  ~ Peter Abrahams

DIE Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, Albert Fritz, het Dinsdag ’n padblokkade saam met die minister van vervoer en openbare werke, Bonginkosi Madikizela, besoek.

Die padblokkade is gehou op die M5-snelweg ná die Athlone-afrit in die rigting van Muizenberg.

Die doel van die besoek aan die padblokkade was om insig te kry oor die beweging van mense gedurende die sewe dae lange grasietydperk wat op 1 Mei begin het.

Hierdie grasietydperk laat inwoners wat gedwing is om in ’n ander provinsie of gebied te bly, toe om terug te keer huis toe.

Minister Fritz sê: “Daar is ’n merkbare toename in padverkeer ná die skuif van fase 5 na fase 4.

“Dit was duidelik tydens die padversperring vandag.

“Ek doen ’n beroep op inwoners om aan te hou om die lockdown-regulasies na te kom en die huis net te verlaat indien nodig soos om inkopies te doen en mediese hulp te soek.”

Fritz voeg by: “Dit was baie gerusstellend om te sien dat die meerderheid inwoners die lockdown-regulasies nakom.

“Die meeste mense gebruik die toepas­like persoonlike beskermingstoerusting, insluitend lapmaskers en handontsmettingsmiddels.

“Boonop word die nodige permitte gebruik deur die noodsaaklike dienspersoneel wat op die paaie reis.

“Ek wil al die inwoners bedank vir die nakoming van hierdie voorwaardes en die veiligheid van mekaar.”

VALKOË: Albert Fritz doen nadere ondersoek na die permit van bestuurder op die M5. Foto: Peter Abrahams

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters