27 dae gelede
‘Met meer kan ons nóg doen’
MET LIEFDE: Chantel du Plessis, Rolene Baadjies en Christalene Fortuin roer die potte kos wat hulle berei vir die laaste keer voordat hulle dit gaan uitdeel.  ~ Jonathan Lestrade

’N VOEDINGSKEMA in Mitchells Plain het voor die lockdown al elke dag 150 kinders gevoed.

Sedertdien het dié getal gegroei na 2 000 kinders per dag.

Die skema voed ook 87 bejaardes.

Warda Cay van Cay’s Kitch­en in Eastridge het al 18 jaar ’n passie vir deel.

“Niks het verander in wat ons doen om vir die volgende persoon om te gee nie. Dis net dat die getalle wat ons voed nou baie meer is.”

Danksy haar vriende en familie en ander organisasies is Cay in staat om elke dag groot potte kos te maak.

“Ons doen dit nie vir recognition nie; ons doen dit omdat ons weet daar is baie mense wat niks het om te eet nie en ons kan ons nie blind hou daarvoor nie,” sê sy.

Die groep begin soggens 05:00 reeds kosmaak.

Cay sê Breadline Africa en Unchain the Plain ondersteun hul program en dis danksy hulle dat Cay se groep nou soveel meer honger monde kan voed.

“Ons is in staat om vyf dae per week kos aan die kinders en bejaardes te verskaf. Als het met een straat in die gebied begin.

“Elke dag het dit net groter gegroei.

“Ek wil ook dankie sê aan Lucinda Evans, wat my ook ondersteun en aanmoedig,” sê Cay.

VEILIGE AFSTAND: Die kinders sit almal ’n meter uitmekaar terwyl hulle in lyn wag vir hul lekker warm bord kos.

Sy voeg by sonder die hulp wat sy kry, sou die inisiatief nie moontlik gewees het nie.

“Daar is dae dat ek dink die kos gaan nie genoeg wees nie. Maar op die een of ander manier is daar altyd genoeg.

“Ons doel is om elke kind te voed wat in die ry staan. Ons wys niemand weg nie.

“Ek sê altyd dat ons nie die armes voed nie.

“Ons voed enige iemand wat honger is,” sê sy.

Om by die social distanc­ing-regulasie te hou, maak Cay seker dat die nodige afstand tussen kinders gehandhaaf word.

“Ons voed kinders in sewe verskillende strate.

“In elke straat het ek iemand wat seker maak daar word aan die regulasies voldoen. Wanneer dit by die ouer mense kom, neem ons die kos na hul huis toe.

“Ek kan nie verwag dat ouer mense buite in die straat of in ’n ry moet staan nie, so ons doen home deliv­eries,” sê sy.

John Schultz (77), een van die bejaardes wat daagliks kos ontvang, sê hy is dankbaar vir wat Cay doen.

“Wanneer sy iets belowe, bedoel sy dit en ons waardeer haar,” sê hy.

Cay sê hulle wil graag nóg meer kinders voed.

TE LEKKER: John Schultz sê die kos wat hy van Warda Cay (regs) ontvang, beteken baie vir hom en sy vrou.

Sy doen ’n beroep op die publiek om haar skema te ondersteun.

“Ons vra, as mense kan, dat hulle aan ons non-pe­r­ish­able en perishable items te verskaf sodat ons genoeg kos het om aan te gaan en meer mense te voed.

Petrol

“Ons het net een driver wat met sy bakkie vir ons rondry en ons waardeer sy hulp.

“Ons sal graag ’n donasie vir petrol wil ontvang sodat ons na ander gebiede in Mitchells Plain kan gaan,” sê sy.

Enige iemand wat Cay wil ondersteun, kan haar kontak by 072 630 2661.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters