13 dae gelede
Mense gryp en escape met kos
GESTROOP: Hierdie is ál wat van Hombakazi Befile se kospakkies oorgebly het.  ~ Mkhuseli Sizani

KOSPAKKIES wat vir arm huishoudings bedoel was, het voete gekry toe ’n groep mense van die Bayland-plakkerskamp in die Baai die stoorplek van die kos bestorm en geplunder het.

Die kospakkies was geoormerk vir verspreiding deur NGO’s.

Daar was egter Maandagaand ’n chaos toe die groep mense die shack bestorm het waar die kospakkies geberg is.

Toe die mense hoor die kospakkies is nie vir hulle nie, maar dit word ironies genoeg vir veiligheid in hul midde gestoor, het hulle begin sing: “Asoze sixole singakufumenanga ukutya (Ons kan nie hêppie wees as ons nie kos het nie).”

Die hulp van die Despatch-polisie moes inderhaas ingeroep word.

Daar is toe ooreengekom dat die gesprek rondom die kospakkies die volgende dag voortgesit sou word.

Maar die cops was kwalik van die toneel af weg, toe breek alle hel los.

Hombakazi Befile, die tesourier van ’n plaaslike NGO, sê die inwoners het haar van korrupsie beskuldig toe mense sien hoe sy die kospakkies uit ’n trailer haal en in ’n shack wegpak.

“Ek het hulle gesê dat hulle by Sassa moet gaan protest vir kospakkies, want hierdie kospakkies behoort aan ’n NGO-netwerk, maar toe begin hulle my beledig,” het Befile verduidelik.

Teesakkies

Sy sê nadat die polisie vertrek het, het ’n groep jeugdiges teruggekeer na die shack en die deur afgeskop.

“Die helfte van die kospakkies in die shack is toe geplunder.

“Rys, kookolie, suiker, teesakkies, butternuts ... alles is gesteel.

“Hierdie kos was bedoel vir gemeenskappe in Motherwell, Greenbushes en Uitenhage, maar nou gaan daar niks van hierdie planne kom nie,” het ’n teleurgestelde Befile laat hoor.

’n Gemeenskapsleier, Nomonde Soga, sê hulle het twee weke lank toegekykhoe kospakkies hul gemeenskap binnekom en verlaat sonder dat hulle enigiets kry.

“Ons het haar (Bafile) gevra om ons ’n lys te wys van die beneficiaries vir wie hierdie kospakkies bedoel is en ook waar dit afgelewer gaan word.

“Sy het toe gesê die kos is vir inwoners van Veeplaas en sy het nie so ’n lys by haar nie.

“Toe sy sê inwoners kan by Sassa gaan protest vir kospakkies, het dit die gemeenskap baie kwaad gemaak,” het Soga vertel.

Verskeie gemeenskapsleiers het hulself van die erge plundery gedistansieer.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters