2 maande gelede
Lockdown krap talle se sake om
Stroom: Shoprite in Kraaifontein wemel van mense wat probeer om broodnodige inkopies te doen.  ~ Melinda Stuurman

’N MAN is Vrydag koelbloedig doodgeskiet terwyl hy tou gestaan het om te shop op dag een van die lockdown.

Son het dié naweek verskeie areas besoek en in Delft, Bonteheuwel, Kalksteenfontein, Kraaifontein en Mitchells Plain het dit omtrent gewemel van mense.

Die houding onder die horde mense was: Lockdown? Vir wie, vir wat?

Mense het gaan shop en op smokkeljaarts gesit en drink. Die gangsters was selfs daarop uit om hulle enemies uit te haal.

Tydens ’n besoek aan die Charlesville Shopping Mall in Montevideo is ’n man, Raymond Spanneberg (31), afgemaai terwyl hy in ’n lang ry gestaan en wag het.

Die honderde shoppers wat ook in die ry gewag het om die sentrum binne te gaan, het uitmekaar gespat toe die man op die grond neerval.

Daar is beweringe dat hy ’n gangster was.

’n Woordvoerder van die polisie, kapt. FC van Wyk, het die skietvoorval by die winkelsentrum bevestig.

Van Wyk het bevestig die voorval is bendeverwant en niemand is nog gearresteer nie.

Enigiemand met inligting kan die Stop Misdaadnommer, 08600 10111, skakel.

Vroeg

Die army en die anti-gang unit, wat op standby was op die hoek van Jakkalsvlei-laan in Bonteheuwel, het hulle dadelik na die toneel gehaas.

In Kraaifontein was Shoprite se stoep by die Bloch Sentrum stampvol van inwoners wat hulle shopping wou doen.

Monica Mooi (63), ’n pensioenaris van Watsonia Park, is een van die shoppers wat al vroeg voor Shoprite se deure gestaan het.

Sy is een van die vele wat geen ander keuse gehad het nie as om tydens die lockdown uit te gaan.

Mooi het aan Son vertel sy het nie voor die lockdown geld gehad om te kom shopping doen nie.

Sy vertel: “My kinders sit sonder kos. My koskaste is dolleeg.

“Ek het eers vanoggend ’n geldjie gekry om vir hulle kos te gaan koop.

“Die president het nie gedink aan ons wat nie geld het toe hy skielik besluit daar gaan ’n lockdown wees nie.

“Dis onregverdig.

“Hy moes eers almal ’n kans gegee het om hulle sake agtermekaar te kry.

“Ek moet voorsorg maak vir my kleinkinders (3 en 11) wat in my sorg is.

“Ek sit met huilende, honger kinders in die huis.”

Sy voeg by sy is nie bang vir Covid-19 nie en alles gebeur in elk geval volgens die wil van die Here.

Moedeloos

Natasha Swartz van Wallacedene sê sy moes ure in ’n ry staan om kos te koop.

Volgens Swartz het talle vir hulle base gewag om hulle salaris in te betaal.

Sy kla: “Ek is al moedeloos gewag, maar ek moet ’n paar goedjies vir die huis kry.

“Nee f*k, man, die virus maak net k*k!”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters