12 dae gelede
Lockdown hou meisie nie weg van haar boeke
BEAT DAAI INPERKING: Leander Botha (13) is hard aan die swot.  ~ Basil Davids

ROBERTSON. – Die lockdown het dié girl nog nie een keer teruggehou nie.

Leander Botha (13) droom daarvan om eendag ’n regter te word.

Kort ná die lockdown het Leander nog elke dag soos normaalweg agter die skoolboeke ingeklim.

Leander sê sy is mos nie op vakansie nie en benut elke oomblik om die skoolwerk op haar eie te doen.

“Ek het nie ’n selfoon nie en kan ook nie ge­home-­school word nie,” vertel Leander.

Volgens haar gaan sy aan met haar lesse soos haar juffrou dit in hul klas sou aanbied.

“Ek gaan deur elke les in die dagboeke en leer myself,” verduidelik ’n trotse Leander.

Volgens haar vat sy ook breaks op dieselfde tye wanneer haar skoolklok vir pouses sou lui.

Wanneer dit tyd is vir die skool om te verdaag, gaan sit Leander haar boeke in haar slaapkamer tot die volgende dag.

“Ek hou my dan vir die res van die dag besig deur solank kos vir ons gesin te berei of ek lees ’n boek en net voor die son sak, sal ek ’n draai om die huis loop.”

Volgens haar het sy sedert die begin van die lockdown nog nie ’n voet buite hul hekkie gesit nie.

Leander sê haar maats is al kwaad vir haar oor sy nie buite in die straat saam met hulle netbal wil speel nie.

“Ek werk nou baie harder, want niemand weet wat die toekoms veral vir ons jong skoolgaande kinders gaan inhou nie,” sê Leander spontaan.

Volgens haar is sy nou baie bly dat daar lig aan die einde van die tonnel is. Sy wil net weer terug op die skoolbanke kom.

Biblioteek

Leander se mammie, Catherine, sê haar dogter is van kleins af gek oor boeke.

Volgens Catherine was Leander net vier jaar oud toe sy by die biblioteek aangesluit het.

“My kind hou daarvan om dokumentêre programme oor misdaad op televisie te kyk en geniet dit wanneer misdade opgelos word,” vertel sy.

Leander glo haar droom om eendag ’n regter te word, sal inderdaad waar word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters