3 maande gelede
Leerders worry virus kan studies bemoeilik
bekommerd: Demi Mintoor kla oor die virus.Foto’s: theo jeptha  ~ 

DIT is duidelik dat die Oos-Kaapse matrikulante baie bekommerd is oor die belangrikste jaar in hulle lewe.

Daar was teen gistermiddag nog geen bevestigde gevalle van die corona-virus in die provinsie nie, maar matrikulante vrees die dag dat dit wel gebeur.

Son op Sondag het met ’n paar matrieks gesels en gehoor hoe hulle voel oor die Corona-virus-uitbreking en hoe dit hulle studie beïnvloed.

Shanice Floors (17) van die Hoërskool Bertram sê die virus kom op ’n baie slegte tyd in hulle lewe.

“Ek weet nie hoekom dit juis nou moes gebeur het nie, maar dit beïnvloed ons nadelig. Ons kry take om te doen, maar die onderwysers kan nie verduidelik hoe om te maak nie.

“Die hele ding gooi alles omver – en dís die jaar in my lewe waarna ek uitgesien het.”

Chloe Jacobs (16) van die Hoërskool Victoria Park sê vir hulle is gesê daar gaan geen vakansies vir hulle wees dié jaar nie.

Druk

Jacobs sê die tyd is so min, hulle het nou minder as ses maande om alles af te handel. Sy wil graag eendag ’n onderwyseres word en glo dat daar aan die einde van die dag tog ’n lig in die tonnel sal wees.

Volgens Demi Mintoor (18) van die Hoërskool Cillié is daar nou onnodige druk op die klas van 2020.

“Hierdie ding het ’n groot impak op ons studie en ons kan net hoop vir die beste. Ons moet op ons beste vertoon, want dis ons laaste jaar op skool en die virus help nie baie nie.”

Loyiso Pulumani, onderwyswoordvoerder, sê die departement het stelsels in plek om die kinders te help.

“MultiChoice gaan roosters bekend maak waar leerders lesse op die televisie kan ontvang.

“Dan het ons met Vodacom kragte saamgesnoer, waar een onderwyser in ’n klas sit en les gee aan die matrieks op hulle selfone. Lesse sal ook op die radio aangebied word.” 

KRY HIER INFO OOR CORONAVIRUS

OM DIE korrekte inligting oor die virus te kry, is hier ’n lys nommers om te kontak en websites om te besoek:

Belangrike kontaknommers:

  • • Amptelike tolvrye inbelsentrum – 0800 029 999
  • • Hotline vir klinici – 082 883 9920
  • • Provinsiale hotline – 021 928 4102
  • • Amptelike WhatsApp-hulpdiens – Stuur ’n “Hi” aan 0600 123 456
  • • Departement van gesondheid se e-posadres – doh.­dismed@westerncape.gov.za

Alle lyne is 24/7 oop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters