9 dae gelede
Leerders maak stem dik
ONS LEWE: Malikah Swail en Chelsey Botha, gr. 12-leerders van die Hoërskool Elsiesrivier, het ook gister aan die betoging deelgeneem.  ~ Basil Afrika

LEERDERS van die Hoërskool Elsiesrivier sê die WKOD se besluit om skole te open, is nie deurdink nie.

Chelsey Botha, ’n gr. 12-leerder, glo dat hul lewe, asook dié van die onnies en skoonmakers, in gevaar gestel word.

Leerders en onnies van die Hoërskool Elsiesrivier het gister hul stem by duisende ander gevoeg wat voel die Wes-Kaapse skole moet sluit.

Hulle het vreedsaam met plakkate buite voor die skool betoog.

’n Bekommerde Botha sê: “Ek dink nie die departement het die besluit om die skole vir die ander leerders ook oop te maak, deurdink nie.

Kwesbaar

“Met ons gr.12-leerders en gr.7-leerders is die skole klaar vol.

“Hoe gaan ons maak as die ander leerders ook nog terugkeer skool toe?

“Die onnies en ander leerders vrees dat hulle die virus kan opdoen.”

Nog ’n gr.12-leerder, Malikah Swail (17), het in haar nood ’n brief aan pres. Cyril Ramaphosa en die onderwysdepartement geskryf en haar bekommernis uitgespreek oor die skole wat oop is.

BETOOG: Ouers en leerders tesame met onnies, het gister buite die Hoërskool Elsiesrivier vreedsaam teen die heropening van die skole betoog. Foto: Basil Afrika

Swail sê: “Ek glo in my hart dat ons leerders nog nie reg is om terug te keer skool toe nie.

“Dit is veral met die winterseisoen op hande, waartydens ons meer kwesbaar is.”

Volgens Andrew Arries, ’n shop steward en onderwyser, is die betoging vir die toemaak van skole deur die South African Democratic Teachers Union (Sadtu) gereël.

Hy sê: “Ons gaan die hele week met plakkate buite die skool betoog.

Mannekrag

“Die protes is van die oggende tussen 07:00 en 09:00. Daarna gaan die leerders en onnies terug klaskamer toe.

“Dit gaan oor die gr. 10 en gr. 11-leerders wat volgende week ook moet terugkeer skool toe.

“Ons kan nie cope nie, want daar is nie genoeg mannekrag nie.”

Nog ’n bekommerde ouer wat aan die betoging deelgeneem het, voel die skole moet toemaak.

Die ouer sê: “My gr. 10-kleinkind ly aan erge sinus en ek voel sy moet nie terugkom skool toe nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters