DIE besteding van sowat R45 miljoen aan die Covid-19-kamp vir haweloses (bergies) in Strandfontein het laas week opslae in die sosiale media gemaak.
Brett Herron, Wes-Kaapse LP van die Good-party, het dié onthulling gedoen wat daarna soos ’n veldbrand versprei het.
Straatslapers van regoor die Kaapse metro is na die Strandfontein-sportterrein gevat om vir sewe weke daar in kwarantyn geplaas te word.
Busse
Die Stad Kaapstad het markiestente na bewering ten duurste van ’n verskaffer in Somerset-Wes gehuur en ’n matrasmaker honderde matrasse laat vervaardig.
Mense van so ver as Gordonsbaai is met luukse busse na die kamp vervoer.
Sommige is na bewering teen hul wil daarheen geneem.
Die kamp het dadelik gelei tot ’n botsing tussen die inwoners van Strandfontein en die Stad.
Die inwoners het hul hofsaak laat vaar toe die kamp ontruim is.
Thomas Julies (47) van Somerset-Wes sê die kamp was allesbehalwe lekker, soos aan hulle belowe is.
Volgens Julies was hul drie maaltye daagliks pap soggens, en rys en sous vir middag- en aandete.
Hy sê: “Sover ek kan onthou, het ons net een keer vleis by ’n maaltyd gekry.”
Julies sê hy het na die kos op straat begin verlang.
Hy sê ook hulle is belowe dat hulle ná die kamp goed sou kry, maar daarvan het niks gekom nie.
In ’n verklaring wat Michelle Jones namens die Stad uitgereik het, sê sy hulle het ’n noodverkrygingsproses gevolg kragtens die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
Jones sê die Stad het gedurende lockdown diens van uitstaande gehalte aan die haweloses gelewer.
Jones sê hulle is verras dat Herron die saak van R44 miljoen oor die besteding aan kampe geopper het.
Lyers
Sy sê 4 500 daaglikse maaltye en 2 000 matrasse en komberse is verskaf.
Jones sê ook 1 352 lyers aan chroniese siektes soos TB, MIV, diabetes, hoë bloeddruk en epilepsie is gehuisves.
Volgens Jones is 1 858 mense vir Covid-19 getoets en 120 mense is met hul families herenig.