2 maande gelede
Kopkrappery oor onderrig
belangrike kwessie: Daar is gemengde gevoelens oor klaskamers wat nou vir langer leeg gaan wees.Foto: jonathan lestrade  ~ 

DAAR is gemengde gevoelens onder ouers en die Wes-Kaapse onderwysdepartement oor die skoolvakansie wat verleng is.

Dít nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand die vlak 4-lockdown aangepas en aangekondig het dat skole nou eers op 26 Julie sal heropen pleks van 18 Julie.

Sommige meen dis ’n manier om leerders teen die dodelike Delta-variant van die Covid-19-virus te beskerm.

Ander voel dit sal leerders skade berokken wat hul akademie betref.

Volgens Vanessa le Roux, stigter van Parents Equal Education SA (Peesa) en ook ’n ouer, moet alles moontlik gedoen word om kinders veilig te hou.

Le Roux sê: “Ek dink nie dis ’n skoolvakansie wat verleng is nie. Ek is van die opinie dat ons alles moet doen om ons kinders veilig te hou vir solank as wat dit nodig is.

Forseer

“Kinders raak siek en daar is geen manier hoe jy ’n lewe opweeg teen ’n stukkie papier nie.

“Ek neem kennis van die Wes-Kaap se ontevredenheid oor die verlengde toemaak van skole.

“Die Wes-Kaap het té veel probleme om aan te spreek.

“Ek stel voor hulle vat die tyd om eerder dít te doen as wat hulle besig is om nuwe probleme te skep waar hulle ten alle koste probeer om laerskoolkinders terug te forseer na oorvol klasse.

“Ek begin wonder of die WKOD se span ooit met die gesondheidsdepartement kommunikeer oor die virus, want hulle contradict mekaar die hele tyd.

“Hul haastigheid maak nie sin nie. Tensy dit is om die unplaced learners te verdoesel en dan in die oorvol klasse te prop.”

Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, meen die verlenging van skoolsluitings gaan veral leerders in die grondslagfase raak.

Winde sê: “Die Wes-Kaap is veral bekommerd oor die impak wat dit op kinders in die grondslag­fase-vlak sal hê.

“Die provinsie is daaraan toegewyd om kinders in die onderwysstelsel te hou.”

Leoni Nolan, ’n gr. 5-onnie, het aan Son gesê dat die verlengde vakansie nie so ’n groot impak op leerders sal hê nie oor dit met net een week verleng is.

Nolan sê as skole vir langer gesluit sou wees, kan dit wel ’n negatiewe akademiese impak op leerders hê.

Sy verduidelik: “Veral minderbevoorregte leerders sal hierdeur geaffekteer word.

“Ons sien reeds die impak van laas jaar se lockdown in die agterstand wat ons kinders het.

Opsie

“Ek dink dit het tyd geword dat die minister van basiese onderwys regtig die kurrikulum moet aanpas sodat ons kinders, veral dié wat van minderbevoorregte agtergronde kom, ook ondersteun kan word.”

Nolan sê as die skole nóg langer gesluit bly, sal aanlyn klasse nie vir haar leerders ’n lewensvatbare opsie wees nie.

Sy sê hulle het skaars geld vir krag, so dit sal vir hulle onmoontlik wees om data-geld in die hande te kry.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, sê sy is baie bekommerd omdat daar vanjaar baie onderrig en leerwerk verlore gaan.

Schäfer sê dis veral die onlangse National Income Dynamics Study – Coronavirus Rapid Mobile Survey- verslag (Nids-Cram) wat baie skokkend was.

Hieroor sê sy: “Ek sal graag die kabinet se wetenskaplike redes wil hoor vir die verlenging van skoolsluitings.

“Ons moet alles moontlik doen om verdere onderbrekings by skole te vermy.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters