14 dae gelede
Klas toe: Talle ouers bevrees, ander vertrou
JA: Jacqueline Kahn sê sy is bereid om haar kind terug skool toe te stuur.  ~ Peter Abrahams

“MY KIND gaan veiliger by die skool as by die huis wees.”

Só meen Jacqueline Kahn van Uitsig wat nie twee keer gevra moet word hieroor nie.

“Soos dinge hier aangaan, sal kinders veiliger op die skoolterrein wees.

“Met die skietery is ons kinders nie veilig buite nie,” sê sy.

Kahn se kommentaar volg op die minister van basiese onderwys, Angie “Mama Covid-19” Motshekga, se perskonferensie Dinsdagaand en die planne om skole op 1 Junie vir gr. 7’s en gr. 12’s te laat begin.

Voedingskema

“Ek vertrou die skool sal alle stappe doen om gereed te wees vir die kinders,” sê sy.

Vir dié ma gaan dit ook oor die voedingskema wat vir die kinders en haar huishouding verligting sal bring.

“Ons almal sukkel. As my kind by die skool kan eet, haal dit die druk op baie ouers af wat werkloos is,” sê sy.

Skoolouers Deon Kahn en Be­linda Dam voel dieselfde.

“Ons het nie die resources om ons kinders te home school nie,” sê Deon.

Hy sê hy besef hoe gevaarlik die virus is, maar leef in vertroue.

“Ek wil hê my kind moet klaarmaak sodat hy hoërskool toe kan gaan.

“Ek weet vir kinders en onderwysers gaan dit nie maklik wees nie, maar ons moet probeer.”

Dam sê: “Ons as ouers moet ook stappe doen om te verseker ons kinders se gedrag verander om veilig te bly.”

Nog ’n ouer wat anoniem wil bly, sê sy’s nie bereid om haar kind skool toe te stuur nie.

“My kind is nie ’n proefkonyn in die stelsel nie. Hoe kan die minister sê dat geen kind kan doodgaan van die virus nie?”

“Die regering sit tuis en wil dikteer.”

Gevaar

’n Opvoeder van Mitchells Plain sê sy bevind haar in ’n no win-situasie.

“As ek nie terug skool toe gaan nie, dan word ek nie betaal nie. As ek wel gaan, stel ek moontlik my familie in gevaar.

“Mense is gou om te sê have no fear, maar die fear is real vir ons.”

’n Ander hoërskoolopvoeder sê sy verwelkom die stappe om die skooljaar te red, maar is bekommerd oor die implementering van hulpbronne by skole.

Nog ’n opvoeder wat anoniem wil bly, sê: “Ek voel wel dat al ons kinders elke dag hierdie struktuur en roetine nodig het.

“Ek is egter besorg oor leerders met dissipline-probleme wat nie hul PPE sal dra nie.”

Haley Hanslo , ’n gr. 12-opvoeder van Elsiesrivier, sê sy is baie gelukkig en kan nie wag vir die leerders om terug te kom nie.

“Ons moet hulle binnekort in die groot wêreld instuur en ek wil hê hulle moet voorbereid wees,” sê sy.

Hanslo voeg by dat sy vyf maskers gekoop het, asook ’n shield.

“Die leerders sal 1,5 m uit mekaar sit en ons gaan les gee en seker maak ons versprei nie die virus nie, maar beheer dit.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters